Vlug VA2 was vroeg Dinsdagoggend onderweg na Sydney, waarna dit verder sou vlieg na Christchurch in Nieu-Seeland, toe dit probleme ervaar.

“In ooreenstemming met standaard bedryfsprosedures het die kaptein besluit om as ’n voorsorgmaatreël terug te keer nadat twee van die wasbakke aan boord begin lek het,” het die lugredery in ’n verklaring gesê.

’n Passasier het aan ’n radiostasie in Nieu-Seeland gesê daar het menslike afval in die gange afgeloop en die reuk was “onuithoudbaar”; Virgin het dit ontken.

“Die toilette is verbind aan ’n heeltemal aparte dreineringstelsel,” het hulle aan The Sydney Morning Herald gesê.

“Aangesien die probleem met die wasbakke en nie die toilette was nie, het daar nie menslike afval uitgelek nie.”

Virgin het gesê die langafstandvlug het omgekeer vir die passasiers se gemak en dit het toestemming gekry om na diens terug te keer.

Hulle het nie die oorsaak van die probleem onthul nie.

“Die veiligheid van die vliegtuig was nooit ter sprake nie,” het hulle gesê.

- Sapa