Ses klagte van bedrog is reeds by die polisiekantoor op Plettenbergbaai ingedien nadat talle matrikulante en hul ouers glo ’n rat voor die oë gedraai is.

plettslenter

Netwerk24 het vroeër berig 'n man, wat bekend is op dié kusdorp, het op die webtuiste Gumtree verblyf geadverteer. Toe die matriekleerlinge wat van die aanbod gebruik gemaak het op Plettenbergbaai opdaag, was die blyplekke glo reeds vol.

Die matrikulante het die adverteerder probeer opspoor, maar kon hom nêrens vind nie.

“Die ondersoek gaan voort en die kans dat die verdagte in hegtenis geneem sal word, is uitstekend,” het kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, aan Huisgenoot bevestig. “Ons verwag hy gaan binnekort aangekeer word.”

Van die sake wat reeds ontvang is, is oorgeplaas van polisiekantore in Kaapstad, Rondebosch en Tafelsig. Volgens Malcolm verwag die polisie nog klagte gaan gelê of van ander dorpe en stede oorgeplaas word.

Malcolm sê mense in Pretoria, Durban en Oos-Londen is na bewering ook verkul; daarom word nog klagte verwag.

Herald Live het vroeër die maand berig een gesin het tot R42 000 vir akkommodasie op Plettenbergbaai betaal. Verskillende mense het altesaam tot sowat R200 000 se verblyfkoste aan die verdagte betaal.