Michael Morton, ’n 28-jarige sportproduktehandelaar van Hamilton, is byna R900 000 ryker ná hy gister met een hand ’n vangskoot gemaak het. Dié prys is deel van die Tui Catch A Million-kompetisie waarin ’n Kiwi-bierhandelsmerk kriekettoeskouers uitdaag om met een hand ’n vangskoot te maak. Om vir die prys in aanmerking te kom moet jy ’n oranje Tui T-hemp dra.

Dié T-hemde kos sowat R260, maar Michael het syne gratis saam met ’n sespak Tui-bier gekry. “Vanaand gaan ek die lekkerste Tui nóg drink,” het hy gesê.

Michael het die wedstryd saam met sy pa bygewoon. Hy het die vangskoot al vroeg in die wedstryd gemaak toe die Wes-Indiese kolwer Kieran Powell ’n reuse ses slaan.

“Dit sou ’n baie lang middag gewees het as ek die bal laat val het,” het Michael gesê. Hy het glo glad nie opgewarm vir dié merkwaardige vangskoot nie en het selfs geskerts dat hy die oggend nog kruideniersware in die supermark laat val het.

Tot die Black Caps was beïndruk met Michael se vangskoot en het hom op Twitter gelukgewens. Hulle het dié foto van Michael getwiet en gesê: “Dit is ’n (NZ) $100 000-hand! Dit wil gedoen wees! Geluk Michael Morton @tuibeer het jou pas ryk gemaak.”

[caption id="attachment_63742" align="aligncenter" width="600"]Foto: Twitter (via @BLACKCAPS) Foto: Twitter (via @BLACKCAPS)[/caption]

Daar is nog sewe wedstryde waartydens dieselfde prys gewen kan word.

Kyk hier na Michael se vangskoot:

Bronne: nzherald.co.nz, nzcity.co.nz, smh.com.au