’n Voedselmaatskappy het by die konstitusionele hof aansoek gedoen om ’n beslissing teen te staan wat dit verbied om ’n sjokoladestafie wat soos ’n KitKat lyk te vervaardig, het Beeld Donderdag berig.

Dit was nadat daar in die appèlhof in Bloemfontein teen die vervaardigers van die Tiffany Break beslis is op gronde van intellektuele eiendom en die handelsmerkwet.

Die International Foodstuffs Co en Iffco South Africa se appèl teen die interdik wat hulle keer om die Tiffany Break te verkoop, was onsuksesvol.

Hul regsverteenwoordiger, Lizl Combrinck, het in hofstukke gesê die publiek verwar nie die twee sjokoladestafies nie.

Die interdik is in Nestlé se guns toegestaan oor die vorm van die KitKat, wat as ’n handelsmerk geregistreer is.

Die appèlhof het beslis die interpretasie van die Wet op Handelsmerke en die toepassing van regte op intellektuele eiendom is baie belangrik vir die publiek, besighede en buitelandse beleggers.

Die appèlhof het sterk ooreenkomste tussen die sjokoladestafies gevind en dit kom neer op verliese vir Nestlé.

tiffbreak

- Sapa