Kit Harington gaan glo vir die sewende seisoen van die epiese fantasiedrama Game of Thrones sowat R7 miljoen per episode verdien!

Die 29-jarige akteur vertolk die rol van Jon Snow en aanhangers was aangenaam verras toe die karakter ná sy oënskynlike afsterwe in die slotaflewering van die vyfde seisoen van die HBO-reeks uit die dood terugkeer.

Kit se stewige salarisverhoging vir die sewende seisoen is te danke aan Snow se gewildheid, en dit wil ook voorkom of ’n agtste seisoen beoog word.

Volgens The Hollywood Reporter sal Kit en sy medesterre Peter Dinklage (Tyrion Lannister), Lena Headey (Cersei Lannister), Emilia Clarke (Daenerys Targaryen) en Nikolaj Coster-Waldau (Jaime Lannister) elkeen meer as R7 miljoen ontvang vir elke episode van hierdie Emmy-bekroonde reeks.

Die publikasie berig die salarisverhogings is deel van die kontrak wat HBO in Oktober 2014 met die akteurs gesluit het, en dit sal hierdie vyf akteurs die bes betaaldes op televisie maak.

Maar al het Peter, Lena, Emilia en Nikolaj elkeen hiertoe ingestem vir die sewende seisoen – en dalk die agtste ook – is die lot van die hoofkarakters nog nie seker nie en sou ’n agtste seisoen die lig sien, word vermoed dit sal die laaste een wees.

Die skrywers van die reeks, David Benioff en D.B. Weiss, het onlangs aan The Hollywood Reporter gesê hulle skryf nou die laaste tonele en dat hulle die program nog 70-75 uur wil laat duur.

Die sesde seisoen van Game of Thrones word eerskomende naweek (25-26 Junie 2016) vertoon, wat beteken tot op hede is 60 episodes is reeds uitgesaai. Sou die vervaardigers die reeks dus tot 75 episodes wil beperk, wil dit lyk of die laaste twee seisoene korter as die voriges kan wees.

© Cover Media