Twee dae ná die koms van ’n nuwe wet vir kinders wat met die gereg bots, word ’n 15-jarige weens die gru-dood van Eugène Terre’Blanche in hegtenis geneem.

Die hofsaak is aan’t kom, en die aanklagte teen die seun en die 27-jarige ChrisMahlangu is onder meer moord en roof met verswarende omstandighede.

Dit kan net verdoemende implikasies vir sy jong lewe hê, sou jy dink. Maar danksy die nuwe wet kan sy lot dalk nou heel anders daar uitsien – dermate dat hy dalk selfs die tronk kan vryspring...

En reeds is een van die menige vrae rondom E.T. se dood: Hoeveel makliker gaan die nuwe wet die lewe nou maak vir dié minderjarige as hy wel skuldig bevind sou word?

Die vermeende betrokkenheid van ’n kind by die omstrede AWB-leier se dood het die nuwe Wet op Geregtigheid vir Kinders vol in die soeklig geplaas.

Kenners is dit eens: Dit was hoog tyd vir dié wetgewing, want dit strook nie net met grondwetlike bepalings nie, maar ook met internasionale riglyne vir minderjarige oortreders.

Maar daar is ook mense – onder hulle die families van bedroefde misdaadslagoffers – wat wonder of daar nie voortaan te sag met jong oortreders gehandel sal word nie.

Die staat het reeds laat blyk die minderjarige moordverdagte se saak sal ingevolge die nuwe wet hanteer word. Die seun word intussen in ’n plek vanveiligheid aangehou, pleks van in ’n sel soos dalk sy lot kon gewees het as die moord net ’n paar dae vroeër gepleeg is.

Die seun is heel tuis in die plek van veiligheid waar hy TV kan kyk, gereelde maaltye kry en selfs vir die eerste keer op ’n bed kan slaap, vertel sy prokureur, die bekende Zola Majavu.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 22 April 2010.

Bespreek vir Skouspel!