Waterpokkies (varicella)

Waterpokkies is ‘n algemene siekte. Dit kan op enige ouderdom toeslaan, maar is veral ernstig by pasgebore babas en dikwels ook by volwassenes.

Dié siekte begin met koors en ongemak, en die erns en tydsduur van simptome neem toe by ouer kinders en volwassenes.

In baie gevalle is die eerste simptoom ‘n jeukerige uitslag in die vorm van ‘n reeks kolle wat begin uitstaan en binne ‘n paar uur klein, ronde blasies vorm.

Kolle verskyn dan op die gesig, kopvel, bolyf en ledemate. Ná drie tot vier dae raak die blase vol etter en vorm dan rowe wat uitdroog.

Hierdie kolle kan ook in die mond, om die oë of op die geslagsorgane ontwikkel. Die graad kan wissel van ‘n paar kolle tot ‘n ernstige uitslag wat die hele liggaam bedek.

Kolle in verskillende stadiums van ontwikkeling is tipies teenwoordig (rooi kolle, blase en blase vol etter) en daar is byna altyd ‘n paar kolle op die kopvel. Die rowe val ná sewe tot veertien dae af.

Die kolle raak maklik besmet as daar aan hulle gekrap word. Die virus is baie aansteeklik en word oorgedra deur speekseldruppeltjies, die hande en voorwerpe waaraan geraak is.

Die eerste tekens van besmetting verskyn eers meer as twee weke ná kontak, dus is waterpokkies moeilik om uit te roei wanneer dit in ‘n skool of hospitaalsaal uitbreek.

Geen behandeling word in nie-ernstige gevalle vereis nie en dit is nie nodig om in die bed te bly nie. Kalamynmelk verlig die gejeuk en droog die blase uit.

Vermy aspirien. Behandel besmette kolle met ‘n ontsmetmiddeloplossing en, indien ernstig, ‘n antibiotikum.

Daar kan in uitsonderlike gevalle komplikasies soos longontsteking en breinvliesontsteking intree.

Waterpokkies begin met kolle wat ontwikkel tot blasies, wat later vol etter word.

Gordelroos (herpes zoster)

Gordelroos is meestal ‘n probleem by ouer mense, maar kom tog dikwels onder kinders voor, veral wanneer hul weerstand teen besmetting laag is.

‘n Groep kolle verskyn meteens aan die een kant van die kop of lyf en word dan blase van verskillende groottes wat kan bars en rou plekke laat wat besmet kan raak.

By volwassenes en soms by kinders word die uitslag dikwels deur pyn voorafgegaan.

Die pyn kan voortduur lank nadat die uitslag reeds verdwyn het. Gordelroos kom meestal op die lyf voor, maar is ernstiger indien dit in die oog-area of oor voorkom.

Die oorsaak is dieselfde virus wat waterpokkies veroorsaak, en wat in ‘n senuwee sluimer van iemand wat maande of jare tevore waterpokkies gehad het. Die virus beweeg deur ‘n senuwee en besmet daardie senuwee se velgebied. Gordelroos kan ook kinders aansteek en waterpokkies veroorsaak.

Die siekte is gewoonlik nie ernstig by kinders nie en parasetamol verlig die pyn. Die helingsproses is stadig en daar kan ‘n wit litteken agterbly.

Skade aan die kornea en gesigsverlamming is moontlike komplikasies, maar kom selde voor.

‘n Groep kolle verskyn skielik aan die een kant van die liggaam of kop en word dan blase.

Belangrik

Lees ook die eerste artikel in ons reeks oor wat om te doen as jou kind koorsig is en wanneer jy beslis by ’n dokter moet uitkom.

Ander kindersiektes:

  • Kliek hier vir meer oor masels en babamasels.
  • Kliek hier vir meer oor Duitse masels en klap-op-die-wang-siekte.
  • Kliek hier vir meer oor Skarlakenkoors en klierkoors.
  • Kliek hier vir meer oor Kawasaki-siekte en meningokokkus-infeksie
  • Kliek hier vir meer oor koorsblare en hand-voet-mond-siekte.