Almal ken tog kindersiektes, maar hoe gemaak as jy geen idee het wat die behandeling moet wees nie en wanneer haas jy jou kind dokter toe. Ons vertel jou alles wat jy moet weet in hierdie reeks van ses artikels. Hierdie laaste een kyk na koorsblare en hand-voet-mond-siekte.

Koorsblare (herpes simpleks)

Kinders se eerste kennismaking met die “koorsblaarvirus” kan ‘n irriterende akute infeksie van die mond veroorsaak.

Dit begin met koors en baie gou verskyn daar pynlike sere oral in die mondholte – in die keel, aan die binnekant van die wange of op die tong.

Die seertjies is eintlik klein blasies wat vinnig bars en ‘n rou plekkie agterlaat. Die tandvliese word terselfdertyd rooi en opgeswel. Die koors en infeksie kan ‘n week of langer duur, en gedurende daardie tyd voel die kind siek en prikkelbaar.

Omdat dit seer is om te eet kan voeding daaronder ly. Dis veral kommerwekkend in die geval van kinders wat reeds aan wanvoeding of ander siektes ly.

Blase en ander sere kan ook aan die buitekant van die lippe, aan die vingers (as dit baie gesuig word) en selfs op ander plekke verskyn.

Ná die besmetting bly die virus vir die res van jou lewe in ‘n senuwee in die kop teenwoordig.

Dit kan deur enige infeksie soos ‘n verkoue geaktiveer word en veroorsaak blasies op die lippe. Baie mense is draers van die herpes simpleks-virus, wat uit twee tipes bestaan.

Tipe 1 is verantwoordelik vir die meeste mondinfeksies by kinders. Tipe 2 veroorsaak blase op die geslagsdele van tieners en volwassenes en is partykeer seksueel oordraagbaar.

Parasetamol drie keer per dag beheer die pyn en koors. Dit is belangrik dat voeding volgehou word en dat klein, gereelde, neutrale, melk-gebaseerde maaltye gegee word.

Daar is doeltreff ende teen-herpes-middels beskikbaar wat veral aan kinders met chroniese siektes of in moeilike gevalle gegee word.

Talle vorms kan baie ernstige algemene infeksies by pasgebore babas veroorsaak. Vroue met genitale herpes het dus spesiale sorg nodig.

Herpes simpleks kan ernstige breinontsteking veroorsaak.

Kinders met chroniese ekseem kan ‘n baie ernstige uitslag ontwikkel indien hulle met herpes simpleks besmet word.

Het jy geweet? Die virus bly vir die res van die persoon se lewe in ‘n senuwee in die kop teenwoordig. ‘n Verkoue kan dit aktiveer.

Hand-voet-mond-siekte

Hierdie virussiekte kom meestal in die somermaande voor, dikwels in die vorm van uitbrake.

Daar is min koors en die eerste teken kan ‘n onwilligheid wees om te eet. ‘n Paar klein seertjies verskyn op die tong of op ander plekke in die mond.

Kort daarna verskyn daar pêrelagtige blase op die handpalms en voetsole, asook aan die buitekant van die hande en voete. Alles genees binne ongeveer ‘n week.

Dit is ‘n ligte infeksie en vereis geen behandeling nie.

Hoewel baie uitslagbesmettings nie ernstig is nie, is dit ‘n goeie plan om ‘n dokter te ontbied wanneer ‘n kind ‘n uitslag ontwikkel.

Belangrik

Lees ook die eerste artikel in ons reeks oor wat om te doen as jou kind koorsig is en wanneer jy beslis by ’n dokter moet uitkom.

Ander kindersiektes:

  • Kliek hier vir meer oor masels en babamasels.
  • Kliek hier vir meer oor Duitse masels en klap-op-die-wang-siekte.
  • Kliek hier vir meer oor Skarlakenkoors en klierkoors.
  • Kliek hier vir meer oor Kawasaki-siekte en meningokokkus-infeksie
  • Kliek hier vir meer oor waterpokkies en gordelroos.