Dit is ‘n seldsame, maar gevaarlike siekte wat meestal onder kinders tussen een en agt jaar oud voorkom.

Die koors styg skielik en die kind voel siek. Ná twee dae se koors is die oë rooi en die mond, lippe, tong en keel seer. Die nekkliere is dikwels vergroot.

‘n Algemene uitslag verskyn (dikwels in die luier-area) en dit kan verskeie vorms aanneem. Opgeswelde rooi hande en voete is kenmerkend.

Die kind is ernstig siek en kan verskeie ander simptome hê: diarree en vomering, maagpyn, hoofpyn of ‘n stywe nek.

Die koors bly sonder behandeling vir vyf tot tien dae hoog en daal dan weer.

Die oorsaak is nog steeds onbekend, maar daar word aanvaar dat dit ontsteking van die haarbloedvate veroorsaak wat na groter bloedvate, veral binne die hart, kan lei.

Gelukkig is daar spesifi eke behandeling wat komplikasies kan voorkom en herstel kan bespoedig. Hospitaalopname is noodsaaklik. Om dié rede behoort ouers bewus te wees van hierdie siekte en ‘n dokter te ontbied in die geval van enige koorssiekte met dié simptome.

Die hoofkomplikasie is inflammasie van die klein bloedvate wat na die kroonslagare kan versprei. Simptome van hartsiekte kan eers maande of jare later hul verskyning maak.

As jou kind siek is en sy voete en hande swel en rooi word, gaan dadelik dokter toe.

Meningokokkus-infeksie

Dié gevaarlike siekte kan op enige ouderdom toeslaan.

Die infeksie kan net in die bloedsomloop teenwoordig wees, of dit kan vinnig tot breinvliesontsteking (meningitis) lei.

As laasgenoemde gebeur, is die simptome koors, hoofpyn, vomering, ‘n stywe nek, dikwels stuiptrekkings en verwardheid. In die geval van eersgenoemde is die prentjie minder duidelik – koors, braking, vinnige asemhaling en polsslag en spierpyne.

‘n Uitslag begin met ‘n paar verspreide rooi kolle enige plek op die liggaam wat vinnig groot en donkerpers word en soos kneusplekke lyk.

Dis net met dié uitslag dat die rooi kolle op die vel nie wit word as jy daarop druk nie. In die ergste gevalle tree skok vinnig in – met koue arms en bene, ‘n swak polsslag en verspreide kneusplekke. Bloeding van die inwendige organe kan voorkom. Die kind kan binne drie tot vier uur sterf.

Die oorsaak is ‘n bakterie wat meningokokkus of neisseria genoem word, wat in die keel teenwoordig is en net in sekere gevalle infeksie veroorsaak.

Party families het vanweë sekere immuniteitsgebreke ‘n verlaagde weerstand teen hierdie bakterie. Hospitaalopname is noodsaaklik in alle gevalle.

As jou kind koorsig is, hoofpyn en ‘n stywe nek het en dan ‘n uitslag kry wat eers soos rooi speldprikke en later soos kneusings lyk, moet jy dokter toe jaag.

Dokter Owen Wiese van Kaapstad sê babas se simptome kan soms van grootmense en ouer kinders s'n verskil.

"Uit kliniese ervaring het ons soms gesien babas met Meningokok se simptome stem nie heeltemal met die klassieke simptome van nekstyfheid en ligsensitiwiteit ooreen nie."

Hy sê ouers kan ook uitkyk vir die volgende tekens onder babas:

  • Hulle huil aanhoudend.
  • Babas wil nie eet of melk drink nie.
  • Die Fontanel (“sagte plekkie” op 'n baba se skedel) staan uit en voel vol.

Belangrik

Lees ook die eerste artikel in ons reeks oor wat om te doen as jou kind koorsig is en wanneer jy beslis by ’n dokter moet uitkom.

Ander kindersiektes:

  • Kliek hier vir meer oor masels en babamasels.
  • Kliek hier vir meer oor Duitse masels en klap-op-die-wang-siekte.
  • Kliek hier vir meer oor Skarlakenkoors en klierkoors.
  • Kliek hier vir meer oor waterpokkies en gordelroos.
  • Kliek hier vir meer oor koorsblare en hand-voet-mond-siekte.