Jy meen waarskynlik jou kind kan enigiets baasraak en uitblink in alles wat sy aanpak. Maar wanneer moet jy uitnemendheid in sport aanmoedig en wanneer is dit beter dat sy haar eie hart volg?

Wat sê die kenners?

Die opvoedkundige sielkundige Raquel Ferreira sê sport hou baie voordele vir kinders in. Maar hou altyd hul ouderdom, vermoë en vaardigheid in gedagte: Kinders onder ses het byvoorbeeld ’n kort aandagspan.

Die belangrikste is dat jou kind die sport moet geniet en ouers ’n strawwe program moet vermy, wat sal keer dat die kind uitbrand.

Pas gesonde aanmoediging toe

As jy regtig glo jou kind is uitsonderlik begaafd in ’n sportsoort, praat met haar afrigter en vind uit of sy die verwagtinge vir haar ouderdomsgroep oortref.

Al hoe jy jou kind se talent kan ondersteun en koester, is om betrokke te raak en haar te ondersteun en aan te spoor. Oorweeg dit ook om haar by ’n plaaslike sportklub in te skryf. Maar moenie so betrokke raak dat jou kind se skoolwerk en sosiale lewe daaronder ly nie, maan Raquel.

“Wanneer jou kind nie ’n wedstryd wen nie, sal dit help as jy ’n motiverende mantra het, soos: Dit is nie ’n mislukking nie, maar ’n tree nader aan sukses. Konsentreer op hoe lekker die sport is; nie wat die uitslag was nie.” ’n Kind blink dalk in iets uit, maar dit beteken nie noodwendig sy geniet dit nie.

Jy druk dalk te hard wanneer:

  • Jou lewe om jou kind se sportverpligtinge of -prestasies wentel.
  • Jy buierig of kwaad word wanneer jou kind nie jóú doelwitte bereik nie.
  • Jou geluk afhang van jou kind se prestasies.
  • Jy met jou kind baklei elke keer dat hy moet gaan oefen of meeding.

Tree so agteruit:

  • Probeer insig in jou gedrag kry.
  • Luister na jou kind.
  • Let op wanneer jou kind kla sy is moeg of sy nie wil gaan oefen nie.
  • Laat jou kind so gemaklik en veilig genoeg voel dat sy haar gevoelens kan verwoord.
  • Besoek ’n opvoedkundige sielkundige sodra jy vermoed jy kort nog hulp.

Aanbevole leesmateriaal vir ma’s wat met hierdie probleem sukkel:

  • How to Talk So Kids Will Listen and Listen So Kids Will Talk deur Elaine Mazlish
  • Boundaries with Kids: When to Say Yes, When to Say No to Help Your Children Gain Control of Their Lives deur dr. Henry Cloud en John Townsend

-Londiwe Dlomo