Ouers van drie leerders wat dood is nadat skoolhoof hulle gehipnotiseer het, deel skikkingsbedrag van R8,1 miljoen

Die skoolbeheerraad van die hoërskool in die Sarasota-distrik het eenparig besluit om die skikkingsaanbod van $600 000 (R8,1 miljoen) te aanvaar nadat George Kenney, die hoof van die North Port-hoërskool, erken het hy het ’n leerder, Wesley McKinley, in 2011 gehipnotiseer -- die dag voor die kind sy eie lewe geneem het. In ’n ondersoek is bevind Kenney het meer as 75 leerders en personeellede gehipnotiseer, waaronder die 17-jarige Brittany Palumbo, wat ook in 2011 haar eie lewe geneem het, asook die 16-jarige Marcus Freeman, wat in ’n motorongeluk gesterf het nadat hy selfhipnosetegnieke gebruik het wat Kenney hom geleer het. Volgens Damian Mallard, ’n prokureur wat die drie gesinne verteenwoordig, was geld nie die rede vir die eis nie, maar die ouers wou seker maak dit gebeur nooit weer nie. “Hy het die onderontwikkelde breine van tieners gewysig en hulle is dood as gevolg daarvan,” het Damian gesê. Kenney het in 2012 bedank nadat hy die vorige jaar op verlof geplaas en aangekla is van twee misdrywe, insluitend die beoefening van terapeutiese hipnose sonder ’n lisensie. Nadat hy besluit het om nie die eis teen te staan nie, het hy ’n proeftyd van ’n jaar uitgedien en in 2013 het hy afstand gedoen van sy onderwyslisensie. Dit het aan die lig gekom dat Kenney drie keer deur die uitvoerende direkteur van die skooldistrik gewaarsku is om nie hipnose toe te pas nie, tensy dit ’n demonstrasie in ’n sielkundeklas was en hy die skriftelike verlof van die ouers gehad het.
Bronne: Time.com, NBC News, News.com.au