’n Vierjarige Amerikaanse dogtertjie het onlangs die nuus gehaal nadat sy haar dienste as blommemeisie by die New York-stadsklerk se kantoor adverteer het aan paartjies wat daar trou. Annabelle Earl het buite die kantoor met ’n skattige plakkaat gestaan waarop sy vra “Kan ek jul blommemeisie wees?” Sy het by ’n maatjie gehoor hoe lekker troues is en wou ook graag deel in die pret.

Kinders kan ’n troue wonderlik spesiaal maak – óf as deel van die gevolg, óf as gaste saam met hul ouers. Maar maak seker jou kind is wel welkom!

As jou kind deel is van die gevolg

  • Maak vooraf seker jy verstaan presies wat van jou kind as blommemeisie of ringdraer verwag gaan word. Bespreek dit vooraf met die bruidspaar en jou kind; oefen selfs ’n paar keer as dit nodig is.
  • Maak seker jou kind verstaan dat hulle net die bruidspaar met hul groot dag help; kinders wat oud genoeg is, gaan dus weet die dag gaan nie om hulle nie. Dit kan teleurstelling of vernedering verhoed as alles nie volgens plan verloop nie of as die gaste se aandag te gou na jou kind se sin na die bruid se pragtig rok terugskuif!

As jy sonder jou kinders genooi word

Onthou, iemand se troudag is hul dag: dit is die bruidspaar se reg om te verkies dat daar geen kinders by die troue is nie – vir logistieke sowel as finansiële redes.

Sommige bruidspare laat wel nabye familie se kinders toe. Moet dus nie ’n bohaai opskop as jy by die troue kom en sien daar is wel kinders nie!

Vind uit van ander gaste wat ook sonder kinders genooi is as die troue op ’n ander dorp is en julle vir die naweek soontoe moet gaan (vra die bruid). Dalk kan julle saam ’n oppasser reël.

As die uitnodiging niks sê nie

Vind uit! Moenie aanvaar jou kinders is welkom nie, maak nie saak hoe klein hulle is nie. Moet onder geen omstandighede net opdaag met jou kinders nie – probeer jou indink hoe jy sou reageer as dit jou troudag was en jy dit nie so beplan het nie!

As jy met jou kinders genooi word

  • Tree met die bruidspaar in verbinding sodra jy ’n uitnodiging gekry het wat sê dat jou kinders welkom is. Vind uit of hulle vermaak of kinderaktiwiteite gaan reël, of daar ’n spesiale kinderspyskaart is en of jy self daarvoor voorsiening moet maak. Vind ook uit of daar ’n kindertafel is sodat jy jou kinders daarop kan voorberei dat hulle dalk by ’n ander tafel gaan moet sit.
  • As jy graag wil hê jou kinders moet by jou sit, moet jy dit betyds aan die bruidspaar kommunikeer. Moenie wag tot die week voor die troue nie – die bruid gaan heel moontlik nie vriendelik wees as sy haar sitplekplan moet verander nie!
  • Gesels met jou kinders sodra jy die uitnodiging na die troue aanvaar het. Verduidelik aan hulle party mense nooi nie kinders nie omdat hulle soms stout is. Vra of hulle dink hulle gaan kan soet wees.
  • Verduidelik hoe die verrigtinge gaan werk: dat julle byvoorbeeld eers lank gaan stilsit (tydens die seremonie), dan kans gaan hê om buite te speel (terwyl die bruidspaar foto’s neem), dan tydens toesprake gaan moet stilsit en dan lekker gaan eet en dans.
  • Trek jou kinders gemaklik aan, in klere en materiaal wat gemaklik sit.
  • Soos jy maar te goed weet, kan selfs die besgemanierde kinders moeilik raak as hulle te laat wakker bly en te veel opwinding meemaak. Skep doelbewus kans vir jou kinders om rustig te raak – hoor of daar dalk ’n lokaal is waar julle ’n rukkie weg van die opwinding kan gaan sit. Jou kind gaan nie midde-in die opwinding sê of erken hulle is vaak nie, maar ná 10 minute se stilsit is hulle dalk reg vir opkrul êrens in ’n hoekie!
  • Pak ’n kussing en kombersie in vir wanneer die ogies wil toeval.
  • Hou ’n paar ‘stil speelgoed of aktiwiteite’ gereed vir verveling tydens die seremonie, byvoorbeeld ’n inkleurboek. As jy een het, kan ’n tablet met jou kind se gunsteling-Disney-fliek (en oorfone!) ook goed werk.
  • As jou maat ook by die troue is, reël vooraf dat een van julle tydens die seremonie gaan opstaan met ’n woelige kind as dit nodig word.
  • Dis belangrik om te onthou dat ’n troue saam met jou kinders nie ’n geleentheid is vir jou om ’n “af-aand” te hê terwyl jou kinders die res van die gaste terroriseer nie! As jy graag saam met jou vriende wil kuier sonder om jou oor jou kinders te bekommer, is dit dalk beter om vroegtydig ’n oppasser te reël en jou kinders liefs by die huis te los.

Saamgestel deur Suzaan Hauman

Bronne: Chicagotribune.com, marthastewartweddings.com, bridalmusings.com, elitedaily.com

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.