Ons het dit almal al gedoen (of ons dit erken of nie). In ’n oomblik van swakheid of histerie het ons ons kinders omgekoop. Party van ons noem dit belonings, nie omkopery nie, maar die meeste van ons sal saamstem R15 000 is ’n astronomiese bedrag om jaarliks te bestee om jou kinders ’n sekere manier te laat optree.

Time.com het onlangs berig Amerikaanse kinders “verdien” weekliks sowat R1 200 aan omkoopgeld, belonings geskenke en sakgeld. En dit is kinders jonger as 10. Dié syfers is na bewering van ’n opname van meer as 2 000 Amerikaanse ouers wat deur die webtuiste Vouchercloud.net gedoen is. Meer as die helfte van die ouers het gesê hulle gee hul kinders geld sodat hulle hulle beter gedra.

Dit is sekerlik nie die ideale oplossing vir swak gedrag of ’n manier om jou kinders te motiveer nie. ’n SuperMa in ons Facebook-gemeenskap het ook onlangs gevra: “Hoe kan ek my vyfjarige dogter beloon vir die sterre wat sy elke week op haar vorderingskaart kry? Ek wil nie hê sy moet elke week ’n speelding verwag nie.”

Die kliniese sielkundige en kinderboekskrywer Jenny Perkel sê op haar webtuiste die beloning vir punte op ’n gedragkaart moet ideaal gesproke klein wees en gehaltetyd saam met ’n ouer insluit. Sy stel voor ’n uitstappie na jou kind se gunstelingplek.

Hier is ’n paar idees oor hoe jy jou kind kan beloon en terselfdertyd leer ’n positiewe ervaring is beter as materiële besittings:

  • Gee jou onverdeelde aandag: Sit ’n uur elke naweek uit om jou kind jou onverdeelde aandag te gee. Doen jou dogter se naels, laat sy jou hare stileer en lawwe uitrustings uit jou klerekas maak. Jou seun sal ’n uitstappie na ’n modderige veld geniet, of julle kan in die tuin speel of ’n kombersfort bou.
  • Raak vlytig: Laat jou kind iets doen wat hulle geniet, soos verf met glinsterstof, muffins bak of ’n bietjie timmerwerk doen. Doen dit saam met hulle.
  • Maak ’n afspraak: Kry ’n fliek wat julle albei sal geniet en krul op die bank op met ’n paar lekker peuselhappies.
  • Praat daaroor: Vra jou kind wat hulle dink ’n goeie beloning is. Dit sal jou dalk verbaas wat hulle in die lewe waardeer.

Bronne: time.com, jennyperkel.com