Die mans stap stil uit die moskee in Stanwest, Standerton. Elke middag bid hulle ’n halfuur lank hier in die heilige maand van die Islam, maar nou het ’n verskriklike ding gebeur. Dis hoekom hul goeie vriend, Hanif Makda, nie meer saam met hulle bid nie.

“Dit is ’n onheilige ding wat nou hier gebeur het,” vertel Haroon Chothia. Hanif was sy beste vriend, todat dié ding oor hul pad gekom het.

Skuins oorkant die kerk staan die huis in Sydney de Langestraat gesluit; ’n buitelig brand, al is dit helder oordag. Dit is in dié huis waar die 44-jarige Hanif en sy vrou, Fatima (37), se erg verminkte lyke op ’n Sondagoggend nou ’n week of wat gelede in hul slaapkamer aangetref is.

Maar die verskriklikste is dalk nog dit: Die egpaar se oudste seun, Zahid (18) – hy is nog maar ’n gr.11-leerder – is nou in hegtenis weens die moord op sy ouers.

Sy twee vermeende meelopers, Lucky Mahlangu (19) en Thuto Miya (20), het met Hanif se Peugeot 806 van die moordtoneel gevlug, maar was 14 km buite die dorp in ’n ongeluk betrokke. Lucky is op slag dood, en die beseerde Thuto is daar aangekeer.

Nou is Zahid ook agter tralies, en sy jong boetie en sussie, albei nog op laerskool, is wees. Hulle het daardie gru-aand by maatjies oorgeslaap en weet nie presies wat met hul ouers gebeur het nie – net dat hulle nou by Allah is.

“Dis ’n onheilige ding,” sê Haroon voor Hanif se huis. “Maar ons weet nie wat om te dink nie.”

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 9 September 2010