IE dag het nes enige ander begin, vroegoggend al, met die taxi wat die jongste lid van die gesin kort ná halfses kom oplaai vir skool.

Die 11-jarige Lisle Augis het op haar ouers se bed gesit terwyl haar pa haar haar skoene help aantrek het. “Die ander skole is toe en die onderwysers staak – bly by die huis by Pappa,” het Paul Augis nog tergerig gesê. Hy is ’n verwer, en werk is maar skaars in die nat Kaapse winter. “Nee, Pappa,” het Lisle gesê. “Dit sal vervelig wees by die huis, laat ek maar gaan.”

En hy het toe . . .

Twintig voor ses was die taxi met Jacob Humphreys agter die stuur voor hul deur. Lisle het ingeklim en die venster oopgemaak. “Ek wil hê jy moet weer vir my kom koebaai sê,” het sy vir haar ma geskree. Ingrid Augis het geglimlag en haar kop geskud. “Sien jou vanmiddag!” het sy vir haar dogter geskree.

“Maak vir my sop warm,” het Lisle gegil voor die voertuig verdwyn het.

Dit was die laaste keer dat Ingrid en Paul hul kind lewend sou sien, want Lisle en nege ander kinders is dood toe ’n trein in die minibus vasgeploeg het nadat die taxibestuurder roekeloos oor die treinspoor probeer jaag het.

“Die volgende keer toe ons haar sien, was dit in die lykshuis,” sê Ingrid saggies.

“Hulle het ons drieuur die middag gebel om haar lyk te gaan uitken. Daar was nie ’n merkie aan haar lyf nie. Sy het nie bang gelyk nie – dit het gelyk asof sy enige oomblik gaan wakker word.”

Lees die volledige artikel in die 9 September 2010.