Dis nou ’n tameletjie.

’n Ma was op ’n lang vlug saam met haar gesin toe haar kind begin naar voel.

“Ons was op ’n lang vlug en daar was turbulensie,” het die ma op die Britse webtuiste Mumsnet onder die skuilnaam Incognitoforonenight vertel.

“DC2 (dit staan vir Dear Child 2 en verwys na haar tweede kind) het halfpad deur die vlug oral opgegooi. Ons het dit alles skoongemaak.”

Maar die ergste was nog op pad. Sowat ’n uur later het ’n passasier wat agter die gesin gesit het, vir haar “liewe man” gesê: “Ek hoop jou seun is oukei, maar hy was naar en dit het op my handsak beland.”

“Ons het jammer gesê en toe sê sy: ‘Nee, dis op my handsak, en dis baie duur. Jou versekering sal moet betaal vir die herstel of om dit te laat skoonmaak.’

“Dit was ’n Louis Vuitton handsak en dis £900 (sowat R15 200) werd! Ons het foto’s van die sak geneem en daar was niks op nie. Sy het gesê sy het wat sy kon, skoongemaak nadat die braaksel tot op die vloer gedrup en op haar sak beland het.

“En ek het gesê ek kan nie enige skade aan die sak sien nie – en sy het geantwoord die reuk is nou ‘ingeburger’ in die sak.”

Nadat hulle van die vliegtuig af was, het die passasier vir die gesin ’n e-pos gestuur en gesê hulle moet die handsak vervang, want Louis Vuitton kon nie van die reuk ontslae raak nie.

Praat van ’n dilemma.

Behoort die gesin vir ’n nuwe Louis Vuitton-handsak te betaal? Die saak het die internet verdeel.

Een gebruiker het gesê die gesin is aanspreeklik.

“Dis nie eintlik enigeen se skuld nie, maar eindelik het jou kind haar sak vernietig. Dis toevallig nou so dat sy ’n sak van £900 besit; dis haar keuse. Ek wed as die sak £10 (R170) werd was en by Primark gekoop is, sou jy die £10 gegee het. Dis waarvoor daar reisversekering is.”

Nog een het laat hoor: “So, sy het die braaksel afgevee, maar die sak stink steeds. Ek kan haar kant van die saak soort van insien. Ek sou betaal het dat die saak deur professionele mense skoongemaak word.”

Nog een het gesê: “Jou kind het opgegooi op die sak; daarom is dit net regverdig dat jy dit regstel.”

Anders gebruikers blameer die passasier en sê sy moes nie “so ’n duur sak op die vloer gesit het nie”.

Nog een sê: “As dit ek was, sou ek haar geïgnoreer het,” en ’n ander: “Ek dink sy’s ’n dwaas om £900 aan ’n handsak te bestee.”

Wat dink jy, behoort die gesin die sak te vervang? Sê jou sê op ons Facebook-blad.