Die paartjie, wie se eersteling, North West, in Junie gebore is, het die huis van R110 miljoen se binnemure laat uitkap om ’n droomhuis vir hul gesin te skep, maar dit kan nog maande duur voor die opknappingswerk afgehandel sal wees.

Al het hulle die huis splinternuut gekoop, het Kim glo probleme met die elektrisiteit, water en verhitting in die huis ervaar en die hele plek moes herbedraad word.

Kimye, wat eers by Kim se ma en bestuurder, Kris Jenner (57), gewoon het voor hulle ’n ander herehuis gehuur het terwyl aan hul praalpaleis gewerk word, het blykbaar meer as R10 miljoen aan weelderige meubels bestee.

Vir die herehuis in die Mediterreense styl is glo ses peperduur beddens en goudbeslaande toilette aangeskaf. Die uitspattigheid hou nie daar op nie: Die werklikheidstelevisiester (32) en rapper (36) gaan glo ook duisende aan hul kombuis bestee, vir onder meer ’n vries-yskas wat met Swarovski-kristalle versier is.

’n Bron het gesê: “Hulle verwag dat die binnenshuise versiering twee keer soveel sal kos as die eiendom. Hulle betaal ’n klein fortuin net vir ’n veiligheidstelsel.”

Kanye het sy woonstel in New York verruil vir ’n gesinslewe saam met Kim en North in Kalifornië.