Kim Kardashian West en Kanye West koop glo ’n landgoed van R210 miljoen.

Die egpaar, wat ’n 13 maande oue dogter, North, het, het in Mei op ’n weelderige troue in Italië afgehaak.

En dit lyk of hul nuwe huis ook ’n Italiaanse gevoel sal hê. TMZ berig hulle is besig om ’n landgoed van 1,4 ha in Hidden Hills, Kalifornië, te koop. Die eiendom het twee wingerde, ’n vermaakpawiljoen van 98 m2  en twee swembaddens, waarvan een ’n waterglybaan het.

Die webtuiste berig die twee se nuwe huis is vyf minute se ry van Kris Jenner se huis in Calabasas, waar Kim en Kanye nou bly.

Na bewering sal die papierwerk vir die landgoed, wat voorheen aan Lisa Marie Presley behoort het, teen die einde van Augustus afgehandel wees.

In Junie 2013 het die kragpaar ’n eiendom in die gegoede Bel Air-gebied in Los Angeles vir R115,5 miljoen gekoop. Maar hulle het dit later verkoop en baie mense het beweer dit was as gevolg van uitgerekte opknappingswerk.

Kim en Kanye het nooit in die herehuis van 836 m2 in Bel Air ingetrek nie, want hulle het ’n jaar en ’n half lank onsuksesvol probeer om die eiendom op te knap.

“Hulle is sulke perfeksioniste dat dit vir hulle uitputtend was om met die jongste toebehore en tuisstelsels tred te hou,” het ’n bron vroeër aan E! News gesê.

“Nog ’n belangrike oorweging om die huis te verkoop en ’n voltooide nuwe huis te koop, is die feit dat die opknapping veels te lank geneem het en hulle regtig hul eie plek wou hê en uit Kris se huis trek.”

© Cover Media