Waarskuwing: Foto's mag sensitiewe lesers ontstel

Twee polisiebeamptes is Woensdag doodgeskiet tydens ’n skietery in Kimberley en ’n derde is kritiek gewond. ’n Polisieoffisier se man – na bewering ’n oudpolisieman genaamd Qolani Feni – het Woensdagmiddag op straat op sy vrou se kollegas losgebrand. Kol. Athlenda Mathe het bevestig die man is self tydens die voorval doodgeskiet nadat ses polisiebeamptes hom vanaf sy vrou se werkplek agtervolg het. Hy is luidens berigte vroeër uit die Noord-Kaapse polisiehoofkwartier verwyder nadat hy sy vrou probeer intimideer het. Luidens berigte wou hy haar aangerand het. Sy het ’n beskermingsbevel teen hom gehad. Die polisie het die man agtervolg nadat hy uit die gebou verwyder is.
Hy het egter op die polisie losgebrand nadat hy in sy voertuig by verkeersligte in Bultfonteinweg stilgehou het.
Adjudant-offisier Duncan Vertue en sersant Gregory Vis is op die toneel dood verklaar. Die derde beampte, sersant Oarabile Boyise, is in die bolyf getref en hospitaal toe geneem waar sy toestand vandag as bestendig bestempel word.
Die voorval word ondersoek. “Die sinnelose aanvalle en moorde op ons lede word beskou as ’n aanslag op die staat se gesag; almal behoort dit te veroordeel,” sê Athlenda.

Bronne: news24.com, ofm.co.za