Kim Kardashian was “heeltemal verpletter” oor kritiek oor haar gewig tydens haar swangerskap.

Die 33-jarige werklikheidstelevisiester erken die konstante kommentaar oor die gewig wat sy aangesit het toe sy North verwag het, het haar selfvertroue geknou. Tog is sy nie haastig om die ekstra rolletjies af te skud nie. North is in Junie gebore.

“Ek het tot dusver nog nie baie geoefen nie, want ek was besig met die baba en wil haar nie vir ’n oomblik verlaat nie,” het sy aan die koerant The Times gesê. “Ek het nog ’n bietjie gewig om te verloor. Atkins het vir my gewerk en ek voel ook nie in die versoeking om ’n klomp gemorskos te eet nie. Alles draai om gesond bly – dit sal wegsmelt.”

Kim – wat glo sowat 11 kg in drie maande op die Atkins-dieet verloor het – sê Kanye West, haar kêrel, het haar aangemoedig om goed oor haarself te voel ongeag haar gewig. “Jy wil hê die man in jou lewe moet dink jy is sexy. Ek sal iets aantrek en hy sal sê: ‘Nee, dit lyk nie goed nie.’ Ek vertrou hom.”

Die ster van Keeping Up With the Kardashians, wat haar eie kinderklerereeks gaan bekendstel, geniet dit om haar kleinding in oulike uitrustings te tooi en sê dit haar het laat besluit om haar eie styl ook ’n bietjie aan te pas.  “Wat kleur betref, wil ek ligter kleure dra. Ek dink North lyk oulik in ligte kleure, en dan wil ek ook ligte kleure dra. North dra nie gewoonlik pienk nie. Sy dra ligpers of bloskleurige uitrustings, nie ’n tipiese babapienk nie.”