Kanye West het onthul sy verloofde, Kim Kardashian, sal sy van aanneem wanneer hulle trou.

Die rapper, wat ’n vier maande oue dogter, North, by die Keeping Up with the Kardashians-ster het, sê Kim sal haar van na West verander of ten minste sy van aan hare koppel.

Die 36-jarige Kanye het Kim op Ryan Seacrest se radioprogram opgehemel. “Dis ’n onregverdige vlak van wonderlikheid vir een mens om so slim, gaaf en fantasties te wees. Sy is een van die mooiste mense nog. Dis nie ’n straf om langs haar wakker te word nie,” het hy gesê.

Terwyl die twee se romanse ontluik het nadat haar huwelik met die basketbalspeler Kris Humphries in 2011 verbrokkel het, erken Kanye hy het al lank voor sy bekend geword het ’n ogie op die werklikheidstelevisiester gehad.

Hy het gesê: “Ek het lank geweet ek wil hê sy moet my meisie wees. Ek onthou ek het ’n foto van haar en Paris Hilton gesien en vir my pel gesê: ‘Het jy daardie meisie Kim Kar-dijon gesien?’ ”

Kanye het ook weer geskimp dat sy verloofde ’n ster op die Hollywood Walk of Fame moet kry en op die voorblad van die tydskrif Vogue moet pryk. Hy het ook “klassediskriminasie” in die vermaakbedryf veroordeel.

Hy het bygevoeg: “Dis nie die walk of singing nie, dis die Walk of Fame. Ons het ons koel tafel . . . en daar’s geen manier dat Kim Kardashian nie op die voorblad van Vogue moet wees nie. Michelle Obama kan nie ’n (bikini-)foto op Instagram plaas soos wat my meisie nou die dag gedoen het nie.”