Die paartjie, wie se eersteling, North West, in Junie vyf weke te vroeg gebore is, wil graag hul gesin uitbrei ná hul troue.

’n Bron het aan die tydskrif Us Weekly gesê die ster van Keeping up with the Kardashians “wil hê haar kinders se ouderdomme moet na aan mekaar wees”.

Kanye (36), wat die enigste kind was, wil ook “’n groot gesin hê”. “Sy gaan volgende jaar, ná die troue, probeer swanger raak,” het die bron gesê.

Die paartjie het in op 21 Oktober op Kim se 33ste verjaardag in die AT&T Park in San Francisco verloof geraak. Die werklikheidster het onlangs vertel hoe wonderlik ma wees is en erken sy wil nog kinders hê. “Dis alles en nog meer wat jy jou kan indink. Dis die beste gevoel, die lonendste ervaring, en ek sal aanbeveel dat almal dit beleef.”

Kim het ook gesê sy het haar swangerskapsgewig afgeskud deur die Atkins-dieet te volg en is baie trots op haar lyf ná die geboorte.

“Almal was lelik met my toe ek swanger was en ek het baie gewig aangesit, dis soort van hoe dit werk wanneer jy swanger is. Ek het goed oor myself gevoel, my gewig is nou weer reg en ek is trots daarop.”