Die 35-jarige ster is tans swanger met ’n seuntjie. Sy en Kanye het ook ’n tweejarige dogtertjie, North.

Kim se eerste swangerskap was erg, aangesien sy aan ’n siekte gely het waar die plasenta op ’n gevaarlike wyse in die baarmoeder gegroei het en sy noodgedwonge ’n operasie moes ondergaan. Die dokters het haar gewaarsku dat die probleem weer kon opduik en dat sy moontlik in Desember ’n histerektomie sal moet ondergaan ná die geboorte van haar seuntjie.

Swangerskap werk net nie vir my nie. Dit is aaklig.

Dit het Kim glo laat besluit dat sy nie haar liggaam verder gaan laat verreneweer nie.

"Kim het vir Kanye gesê selfs al is dit nie nodig dat haar baarmoeder dadelik ná die geboorte verwyder moet word nie, sy nie nog ’n swangerskap en geboorteproses wil deurmaak nie," het ’n ingeligte bron aan die Britse tydskrif Closer verklap. “Sy het vir Kanye gesê dat, as hy nog kinders wil hê, hulle surrogaatskap of aanneming moet oorweeg.”

Kanye was glo redelik ontsteld oor die nuus, aangesien hy altyd gedroom het van ’n groot gesin. Dit veroorsaak skynbaar spanning tussen die paartjie, maar Kim hoop glo haar musikantman sal besef dat dinge volmaak is wanneer hulle hul tweede bondeltjie vreugde verwelkom.

Die skone brunet het onlangs haar hart oopgemaak en haar kommentaar oor haar “aaklige” swangerskap verduidelik, terwyl sy beklemtoon het dat sy haar storie deel om sodoende ander vroue in soortgelyke situasies te kan help.

"Ek dink eenvoudig nie ek en swangerskap pas werklik bymekaar nie,” het sy aan E! Online gesê. “Ek kla nie regtig nie, ek is net eerlik daaroor. Ek haat dit. Swangerskap werk net nie vir my nie ... Jy weet, ek het nog altyd by my ma en (my suster) Kourtney stories gehoor oor hoe wonderlik swangerskap is, maar by my is dit nie die geval nie en ek gaan beslis nie hier sit en leuens vertel en maak asof dit die saligste ervaring is nie. Dit is aaklig.”

© Cover Media