Kim Kardashian het eindelik haar stilswye oor moederskap verbreek ná die geboorte van haar eersteling, North West, op 15 Junie en sê dis die opwindendste ervaring van haar lewe.

Die Keeping Up with the Kardashians-werklikheidster (32) het vyf weke te vroeg die lewe geskenk aan haar en haar kêrel, die rapper Kanye West, se dogter North West. Sy het haar aanhangers bedank omdat hulle haar kans gegun het om aan te pas by die nuwe lid van haar gesin.

Sy het Woensdag geskryf: “Die afgelope paar weke was vol van die opwindendste ervarings van my lewe. Ek geniet dit om behoorlik aan moederskap gewoond te raak en om tyd saam met my familie deur te bring. Ek het al jul boodskappe gelees en wil julle bedank vir jul mooi wense. Dit beteken werklik alles vir my. Ek is geseën om my familie se en aanhangers se ondersteuning te hê tydens hierdie pragtige ervaring.

Kim het vandeesweek haar eerste verskyning in die openbaar gemaak toe sy probeer het om die aandag te ontduik deur in haar kinderoppasser se motor in Kalifornië te ry. “Kim lyk ongelooflik,” het ’n omstander gesê. “Sy het reeds baie van die swangerskapgewig afgeskud. Sy moet nog gewig verloor, maar sy het skraal en stralend gelyk.”

Kim en Kanye (36) het nog nie ’n foto van hul eersteling uitgereik nie en die ster het seker gemaak dat niemand die kleinding te siene kry tydens haar eerste uitstappie nie. “Kim en haar helper het ’n kombers oor North se motorsitplek gehou sodat niemand ’n kykie kon kry nie,” het die bron vertel.

Daar is voorheen berig dat die paartjie die foto aan ’n tydskrif gaan verkoop en die geld aan liefdadigheid gaan skenk.