Kim Kardashian West is “behep” met moorde. Die 34-jarige het naam gemaak met die werklikheidsreeks Keeping Up with the Kardashians en deur talle klere- en skoonheidsreekse.

Maar al lyk dit asof botter nie in haar mond kan smelt nie, het die donkerkop-skoonheid ’n vreemde stokperdjie.
'Ek verstaan regtig nie hoe iemand iemand kan doodmaak nie.'

“Ek is behep met moorde,” het sy aan die tydskrif Time Out London gesê.

“Ek verstaan regtig nie hoe iemand iemand kan doodmaak nie. Ek voel net so sleg vir mense.”

Kim het trouens onlangs onthul sy sou ’n grimeerkunstenaar of forensiese ondersoeker word as haar huidige loopbaan nie vlam gevat het nie. Sy het selfs werkervaring met die oplossing van moordraaisels probeer kry.

“Ek het al by prokureurs gaan vra of ek met ’n moordsaak ’n assistent kan wees. Ek weet ek kan dit help oplos,” het sy giggelend gesê.

Maar Kim konsentreer nou op haar Kardashian Kollection-reeks vir die mode-etiket Lipsy. Sy fokus ook op haar en haar man, Kanye West, se 16 maande oue dogter, North.

Sy is steeds lief vir lang hare en vals wimpers, maar die ster erken ouerskap het gemaak dat sy haar moeisame skoonheidsroetine afskaal.

“Ná my dogter se geboorte was ek amper ’n jaar lank by die huis sonder grimering,” het sy onthul.

“Ek moes ophou, want ek wou haar soen, maar as jy grimering aanhet, is dit regtig moeilik om te soen en jou teen hulle aan te vly sonder dat die grimering aan hulle afsmeer.”

Kim het onlangs hart oopgemaak oor gemengde huwelike en het erken haar dogter het al onder verbale mishandeling van vreemdelinge gely.

“Ek dink mense is ’n bietjie versigtig om iets te sê wanneer Kanye by is, maar wanneer hy nie daar is nie, sal hulle dit aan my sê. Mense het al baie dinge aan my dogter gesê,” het sy aan BBC Newsbeat gesê.

© Cover Media