Kim Kardashian se eks laat glo haar 20 karaat-verloofring opveil.

Kris Humphries (28), ’n basketbalspeler, het die yslike ring aan die afslaer Christie’s in New York gegee om op te veil. Dit sal waarskynlik op 15 Oktober verkoop word. Kris is berug daarvoor dat hy die ster van Keeping up with the Kardashians net 72 dae ná hul troue gelos het.

Hoewel die afslaer nie die naam van die eienaar wou bevestig nie, het hulle verklap dat dit ’n ware heer is. Die besonderhede van die ring is ook dieselfde as dié van Kim se doelgemaakte Lorraine Schwartz-verloofring met sy 16,21 karaat-diamant in die middel en twee 1,80 karaat-diamante weerskante.

’n Bron het aan UsMagazine.com gesê: “Dis verseker dieselfde ring. Kim het gewag dat hy dit opveil. Almal het altyd gevra wat Kim met die ring gedoen het – sy het dit ’n jaar gelede stilweg teruggegee. En Kris het gewag tot die egskeiding afgehandel is om dit te verkoop.”

Daar word verwag dat die ring tussen R3 miljoen en R5 miljoen op die veiling sal haal. Tog is dit baie minder as die R20 miljoen wat die ring glo werd was toe Kris dit in Mei 2011 vir Kim gegee het.

Die twee is in Augustus 2011 getroud, maar die huwelik was skaars drie maande later op die rotse.

Kim (28) is nou die trotse ma van North (drie maande), haar en die rapper Kanye West se eersteling.