Die paartjie het ’n eksklusiewe kraamsuite gehuur, ’n persoonlike fotograaf aangestel om hul kind se eerste oomblikke vas te lê en duisende aan babaprodukte bestee.

Kim Kardashian se bevalling gaan sowat R10 miljoen kos.

Die Keeping Up with the Kardashians-ster verwag haar eerste kind by die rapper Kanye West in Julie. Die paartjie gaan sowat R40 000 per dag bestee aan ’n weelderige kraamsuite in die Cedars-Sinai Mediese sentrum in Los Angeles. Die 32-jarige ster sal na verwagting minstens drie dae daar deurbring.

’n Bron sê: “Dit gaan nie sommer enige bevalling wees nie, selfs nie aan glansmense se standaarde gemeet nie.”

“Kim het reeds tienduisende dollars bestee om te sorg als verloop seepglad.”

Kim en Kanye het duisende bestee om te sorg dat die kraamsuite, wat ’n volgrootte-bad, twee beddens, ’n TV en ’n afsonderlike sitkamer met ’n rusbank en eetkamer het, met dosyne wit rose versier word.

En ingeval die paartjie nie hou van die drie fynproewermaaltye wat elke dag aan hulle voorgesit sal word nie, het die werklikheidster ook gesorg dat hul gunsteling-restaurante vir die duur van hul verblyf op ’n gereedheidsgrondslag is.

Kim sal sowat R9 800 per dag aan ’n fotograaf bestee om die bevalling en haar eerste week as ma vas te lê. In daardie tyd sal sy net klere uit die beste reekse dra. Die paartjie het immers verlede maand sowat R24 500 se weelderige ondergoedjies in Parys gekoop sodat sy op haar beste sal lyk wanneer sy die lewe skenk.

Die bron het aan die National Enquirer gesê: “Kim is glad nie van plan om die gewone ou hospitaaljurk te dra wat ander vroue dra nie.”

En Kim se kraamgeskenk, ’n geskenk wat ’n nuwe ma se maat tradisioneel vir haar gee nadat sy die baba gehad het, sal na verwagting sorg dat die bevalling ’n agtsyferbedrag haal.

Die bron het bygevoeg: “Kanye sal moet gaan inkopies doen. Kim verwag ’n reuse beloning vir al die maande van geswolle voete, kwaai gewigstoename, oggendnaarheid en enorme bababoep.”