Die werklikheidstelevisiester het Saterdag die lewe aan die paartjie se eersteling geskenk en ten spyte van bespiegelings dat hulle die naam Kaidence Donda vir hul dogter gekies het, het die sterre glo besluit op North.

Die skinderwebtuiste TMZ het die geboortesertifikaat gesien van die baba wat by die Cedars-Sinai mediese sentrum in Kalifornië gebore is en ander berigte het dit ook bevestig.

UsMagazine.com het bevestig die naam is North en bygevoeg die paartjie sal haar Nori noem. Dit “gaan goed” met ma en dogter, hoewel Kim (32) vyf weke te vroeg die lewe geskenk het.

“Die baba is baie oulik. Kanye is versot op haar. Kim se bevallingsdatum was 12 Julie – op Kanye se ma se verjaardag. Dit het vir hom baie beteken.”

Daar was voorheen gerugte dat Kim en Kanye (36) die baba North gaan noem en die ster van Keeping Up with the Kardashians het selfs tydens ’n onderhoud met Jay Leno op The Tonight Show geskerts daaroor dat sy haar kind ’n naam met ’n kompastema sou gee.

“Ek hou van Easton, Easton West,” het sy gesê.