Praat van ondankbaar! Dit lyk of die werklikheidster Kim Kardashian (33) lekker verveeld was tydens haar Ierse wittebrood – en dit omdat hulle onder meer nie die luukse winkels kon besoek waaraan sy gewoond is nie. Kim en haar man, die rapper Kanye West (36), het volgens bronne glo selde geglimlag en het tydens uitstappies nie juis gekoer nie.

Kanye het gedink dit sou romanties wees om hul wittebrood daar te vier omdat dit ’n spesiale plek is vir hom en Kim. Haar ma, Kris Jenner (58), en haar stiefpa, Bruce Jenner (64), het in 1991 ook hul wittebrood daar gevier. Maar Kim was glo teleurgesteld met sy keuse: Sy het ’n glansryker vakansie in gedagte gehad, veral ná hul uitspattige troue in Italië. Tog het sy niks laat blyk op Twitter nie. Sy het net getwiet hoe “romanties” hul wittebrood was. “Ons het ’n paar jaar gelede Kanye se verjaardag in Ierland gevier en ons het verlief geraak op die plek,” het Kim getwiet. “Dis so ’n kalm, rustige plek!”

Wel, dit was duidelik te rustig vir haar, want Kim het glo in ’n telefoonoproep met haar ma gekla hoe verveeld sy is en dat die wittebrood aaklig is.

Die paartjie het nie die gewone toeristebestemmings besoek nie, vertel ’n bron. Hulle het onder meer in ’n kasteel tussen die stede Cork en Limerick tuisgegaan en het op ’n modderige roete in die Ballyhoura-berge gaan bergfietsry. “En dit kon nie romanties gewees het nie, nie met twee assistente en twee lyfwagte nie!” meen die bron.

“Kanye het ’n uitstappie in Dublin beplan wat ’n privaat toer van Trinity College ingesluit het, maar Kim het hom oortuig om nie te gaan nie,” vertel ’n ander bron. “Volgens Kim sou die ou museums haar verveel het. Sy wou net die winkels invaar; dis al wat sy wil doen.”

Die paartjie het boonop twee fliekteaters op een dag besoek. “Net Kim Kardashian sal een van die mooiste lande ter wêreld besoek en eerder gaan fliek as om die plaaslike kultuur te ervaar,” sê die bron. “Dis pateties om so te dink. Twee verskillende rolprentteaters op een dag, regtig? As Kanye nie voorheen bekommerd was oor Kim se obsessie met inkopies nie, moet hy nou wees.”

Op die vierde dag was arme Kim glo so verveeld dat sy haar man gesmeek het om ’n dag vroeër na die Tsjeggiese hoofstad, Praag, te vlieg, waar hulle sy persoonlike stilis, Renelou Padora, se troue bygewoon het. Toe hulle eers daar land, was sy weer doodgelukkig, vertel dié wat weet, want sy wil net in luukse boetieks en restaurante uithang.

Dit lyk of arme Kanye hare op sy tande sal moet hê vir dié diva!

BRONNE: RADARONLINE.COM, EONLINE.COM, DAILYMAIL.CO.UK