Kanye West en Kim Kardashian het besluit om nie hul dogter saam te neem Parys toe nie, oor sy probleme met steelfotograwe.

Die rapper van New Slaves en ster van Keeping Up with the Kardashians het Saterdagoggend sonder hul vier maande oue baba, North West, in die Franse hoofstad aangekom. Kim (32) is glo baie ontsteld omdat sy die baba in Los Angeles moes agterlaat, aangesien sy noodgedwonge moes ophou borsvoed.

’n Bron het aan die skinderwebtuiste RadarOnline.com gesê: “Kim wou klein Nori graag saamneem Parys toe, maar Kanye het gesê dis nie ’n goeie idee nie. Hy het probleme met steelfotograwe en het gedink dis te gevaarlik.

“Kim wou vir nog twee maande borsvoed. Sy het dit oorweeg om ’n borspomp saam te neem Parys toe, en ’n assistant dan die melk te laat terugvlieg  LA toe, of om die melk met FedEx terug te vlieg.

“Kanye het gedink dis belaglik, en het oudergewoonte sy sin gekry.”

’n Fotograaf het Kanye (36) onlangs van aanranding aangekla. Kanye beplan op sy beurt om ’n saak teen nog ’n fotograaf te maak, wat Vrydag op sy eiendom oortree het.

Die bron het bygevoeg: “Hy wou Kim ook ’n paar dae net vir homself hê. Hy het gesê hulle het tyd as ’n paartjie saam nodig, weg van haar familie af.”

Die twee is besig om hul troue te beplan, en Kim wil trourok-ontwerpe met Franse modehuise bespreek. Die bron het voorts gesê: “Kanye het afsprake met Chanel, Celine en Givenchy gemaak om ’n nuwe klerekas vir Kim te ontwerp. Hy dink dis ’n goeie tyd vir haar om ’n nuwe beeld te skep.”