Kim Kardashian en Kanye West is glo nie “elegant” genoeg om in die Paleis van Versailles te trou nie.

Die werklikheidster (33) en haar rapper-kêrel, Kanye West (36), wou graag trou in die koninklike chateau in Frankryk. Hul versoek is ferm afgekeur omdat amptenare glo die paartjie het te veel vertoon vir die bekende Franse kasteel.

Kim en Kanye het in Oktober verloof geraak en het ’n sewe maande oue dogter, North.

Hoewel hul aanbod van miljoene rande van die hand gewys is, het die paartjie nogtans die weelderige kasteel besoek toe hulle die naweek in Parys was. Hulle het gehoop die direkteure sal van besluit verander wanneer hulle mekaar van aangesig tot aangesig ontmoet.

’n Bron het aan die Daily Star gesê: “Kim en Kanye wou regtig graag in Versailles trou en het gehoop hulle sou die amptenare tydens hul besoek kon ompraat. Dit het nie gewerk nie; dit was steeds ’n besliste nee. Hulle sal nou kyk na privaat landgoedere en herehuise in die omgewing.”

’n Aantal kamers in die paleis kan vir tot 600 mense gehuur word. Frankryk se oudpres. Nicolas Sarkozy en Carla Bruni het daar getrou. Die Siriese biljoenêr Wafic Saki het R1,53 miljoen betaal vir sy dogter se troue in 2012.

Amptenare van die paleis het glo Kim en Kanye se versoek afgekeur omdat hulle bekommerd is oor die ontwrigting wat hul troue kan veroorsaak.