Kim Kardashian het gewaarsku haar familie moenie foto’s van haar dogter op sosiale media plaas nie.

Die Keeping Up with the Kardashians-ster het haar baba, North West, in die sorg van haar ma, Kris Jenner, en susters, Kourtney en Khloe, gelaat terwyl sy in Parys is. Sy woon daar die modeweek by saam met haar lewensmaat, Kanye West. Kim het gewaarsku haar familie moet versigtig wees met foto’s wat hulle in haar afwesigheid op Twitter en Instagram plaas.

’n Bron het aan die skinderwebtuiste NaughtyButNiceRob.com gesê: “Kim dink glad nie haar ma of susters sal foto’s van North probeer verkoop nie. Tog weet sy almal in haar familie hou daarvan om pal foto’s van hul doen en late op Twitter te plaas. Sy wil nie hê dit moet gebeur terwyl sy weg is nie.”

Die ingeligte het bygevoeg: “Sy weet haar dogter is in veilige hande; nie in baie diskrete hande nie, maar veilig.”

Kim (32) het sedert haar baba se geboorte in Junie nog net een foto van haar uitgereik.

Sy het vertel Kanye (36) het haar geïnspireer om privater te wees.