Die werklikheidster en haar kêrel, Kanye West; se eersteling, North, wat hulle Nori noem, is op 15 Junie gebore en Kim se goeie vriend Jonathan Cheban sê sy is ’n wonderlike ma. “North is pragtig; sy is ongelooflik,” het hy aan Extra gesê.

“Elke keer dat ek met Kim oor die foon gesels, is sy by die baba. Sy is gedurig besig om haar te voer of met haar te speel . . . sy vaar uitstekend. Sy is ’n wonderlike, wonderlike ma.”

Gevra of die baba meer na haar ma of pa lyk, het Jonathan laat hoor: “Sy lyk na albei. Sy is oulik verby; dis al wat ek kan sê.”

Daar is al heelwat gegons oor Kim (32) se stryd om haar lyf terug te kry, maar Jonathan hou vol sy vriendin lyk altyd goed. “Soos ek Kim ken, lyk sy waarskynlik in hierdie stadium fantasties; sy is so te sê volmaak.”

Intussen het Kanye (36) se hegte vriend Jay Z en sy vrou, Beynoncé Knowles, wat ’n 18 maande oue dogter, Blue Ivy, het, onlangs by die nuwe ouers gekuier en vir North met peperduur geskenke bederf.

’n Bron het gesê: “Kanye is een van Jay Z se beste vriende en hy wou hom die beste geskenke gee. Hulle het self ’n dogter en het dus geweet wat die regte geskenk sou wees.”