Die 33-jarige ster, wat ’n vyf maande oue dogter, North West, by die rapper het, wys haar ongelooflike lyf ná die geboorte in die video. Kanye het die video op die Ellen DeGeneres Show die eerste keer vertoon en ’n silhoeët van Kim is verfilm waar sy haar beroemde kurwes wys en op ’n motorfiets in ’n styfpassende broek en hakstewels poseer.

Die modefotograaf Nick Knight het die regie behartig vir die musiekvideo vir die tweede enkelsnit vanaf Kanye se jongste album, Yeezus, wat in Junie vanjaar uitgereik is.

Kanye (36) het al gesê Kim is ’n miljoenêr uit eie reg, en hy weet sy is nie agter sy geld aan nie. “Dis ongelooflik om so ’n vrou te hê, iemand wat jy weet gebruik jou nie vir jou geld nie. Sodra jy ’n multimiljoenêr word, is daar ’n sekere soort vrou wat jou teiken en ’n beeld voorhou daarvoor.”