Kim Kardashian en Kanye West dagvaar die medestigter van YouTube Chad Hurley.

Die Keeping Up with the Kardashians-ster en die rapper beweer die biljoenêr het hom by AT&T Park in San Francisco ingewurm en ongemagtigde beeldmateriaal uitgereik van die oomblik toe Kanye Kim op haar 33ste verjaardag vra om te trou.

Uit hofdokumente wat die skinderwebtuiste TMZ.com bekom het, blyk dit die paartjie beskuldig Chad daarvan dat hy gekonkel het om die video van die intieme oomblik op sy nuwe internetwaagstuk, MixBit, te plaas.

Hul prokureur, Eric George, beweer ook die entrepreneur is desperaat vir ’n tweede gelukslag, want twee van sy ander ondernemings het misluk sedert hy YouTube teen R16,5 biljoen verkoop het.

Voorheen is berig Kanye het Kim se naby familie en vriende, asook verskeie bekende stigters van Silicon Valley, genooi om te kyk hoe hy haar op 21 Oktober vra om te trou. Maar Chad was nie genooi nie en is net toegelaat om te bly nadat hy ’n vertroulikheidsooreenkoms onderteken het.

’n Foto van waar Chad die ooreenkoms vashou, is by die hofdokumente aangeheg. Daar staan ook: “Hurley het toe die geleentheid probeer verander in een waarin hy die hoofrol speel en beeldmateriaal uitgesaai wat hy geweet het iemand ander se eksklusiewe eiendom is.”

Die twee dagvaar Chad, wat ’n persverklaring oor die video uitgereik het en dit aan sy volgelinge getwiet het, vir ’n onbekende bedrag skadevergoeding. Hulle beweer die beeldmateriaal was vir MC Cable Television bestem, ’n afdeling van Bunim/Murray en E! wat Kim se werklikheidsprogram vervaardig en uitsaai.