Kim Kardashian sê dit was die beste aand van haar lewe toe Kanye West haar op haar 33ste verjaardag vra om te trou.

Die werklikheidstelevisiester is nog in die wolke nadat die rapper op 21 Oktober die hele AT&T Park-bofbalstadion in San Francisco gehuur, op sy een knie afgesak en haar die jawoord gevra het.

Afgesien van die stadion het Kanye ook ’n orkes gehuur en gereël dat ’n vuurwerkvertoning die lug verlig.

Kim het eksklusief aan Bang Showbiz gesê: “Dit was ’n fantastiese huweliksaanbod. Ek is steeds oorstelp. Dit was wonderlik. Dit was waarlik die beste aand van my lewe.”

Kim het gesê sy voel “meer vervuld” noudat sy verloof is, maar die paartjie het nog nie ’n troudatum vasgestel nie.

Kanye (36) het onlangs onthul hulle sal waarskynlik volgende somer afhaak en hy beplan ’n weelderige plegtigheid, kompleet met vegvliegtuie.

Kim werk nou saam met haar susters Khloé (29) en Kourtney Kardashian (34) aan hul nuwe Kardashian Kollection-reeks. Argos sal die volledige 25-stuk-juwelereeks van Maandag 11 November eksklusief in voorraad hê.