Kim Kardashian het na bewering ’n versekeringseis van $5,6 miljoen (R 77,2 miljoen) ingedien nadat sy onder ’n gewapende roof in Parys deurgeloop het.

[caption id="attachment_140064" align="alignnone" width="600"]Kim Kardashian West (Foto: C.Smith/WENN.com) Kim Kardashian West (Foto: C.Smith/WENN.com)[/caption]

Die werklikheidster en entrepreneur is vasgebind, gemuilband en ’n geweer is op haar gerig in ’n woonstel in Parys terwyl diewe juwele en selfone gebuit het. Die voorval het Maandag, 3 Oktober, in die vroegoggendure in die Franse hoofstad plaasgevind.

Kim was alleen in die woonstel toe die diewe, glo vermom as Franse polisielede, toegeslaan het.

Haar lyfwag Pascal Duvier het elders in Parys tydens die voorval na haar suster Kourtney omgesien.

Lees ook: Nog skokbewerings oor Kim K-roofsage

Die ma van twee is Vrydag, 7 Oktober, weer in Los Angeles opgemerk toe daar berig is die verfilming van die gewilde reeks Keeping up with the Kardashians is tot tyd en wyl gestaak sodat die familie kan herstel ná Kim se vreesaanjaende beproewing in Frankryk.

En nou het Kim volgens die skinderwebtuiste TMZ.com ’n versekeringseis van 13 items juweliersware ingedien wat altesaam $5,6 miljoen (R77,2 miljoen) beloop.

Haar tweede verloofring van haar man Kanye West – ’n Lorraine Schwartz 20-karaat, smaragvormige diamant – is na wat berig word onder die gesteelde items en vir $4 miljoen (R55,1 miljoen) gewaardeer.

Intussen word daar berig die werklikheidster kan tot $1 miljoen (R13,8 miljoen) per maand verloor as sy, soos wat berig is, ’n blaaskans van sosiale media en haar professionele verpligtinge neem.

Finansiële raadgewer Samuel Rad het aan People.com vertel Kim se blaaskans kan haar dalk nou duur te staan kom, maar dit kan haar gewildheid ’n verdere hupstoot gee.

“Ek dink wat gaan gebeur is, wanneer sy die eerste inskrywing gaan plaas nadat sy nie (vir ’n rukkie) iets gedeel het nie, gaan sy soveel meer volgelinge en trefslae kry,” het hy verduidelik.

“Ek dink dit gaan haar dalk eintlik help. Veral as Kim (haar terugkeer na sosiale media) reg posisioneer . . . Ek dink dat dit baie geld vir haar handelsmerk kan maak.”

– Cover Media