Kanye West help Kim Kardashian om haar figuur terug te kry – deur saam met haar te oefen.

Die 36-jarige rapper is op Vrydag 11 Oktober saam met Kim na ’n uitmergelende oefensessie om 06:30 by Barry’s Bootcamp in Sherman Oaks, Kalifornië. Hy het haar glo tydens die oefensessie baie aangemoedig.

’n Bron het aan UsMagazine.com gesê: “Dit was baie vroeg in die oggend, en ’n uitmergelende oefensessie. Die paartjie het baie geglimlag, was liefderik met mekaar en het mekaar aangemoedig.”

Die twee, wat in Junie die ouers geword het van klein North West, het ’n paar minute laat in bypassende swart uitrustings daar opgedaag.

Die bron het bygevoeg: “Hulle was baie oulik. Hulle het vir mekaar in die spieël geglimlag terwyl hulle langs mekaar op die trapmeulens gedraf het.”

Kim (32) hou glo baie van hierdie soort oefeninge, maar Kanye is nog net twee keer tevore daar opgemerk.