Kim Kardashian se dokters het haar gewaarsku dat ’n derde swangerskap moontlik tot dodelike komplikasies kan lei. Die 36-jarige werklikheidster en haar man, Kanye West, is die ouers van ’n driejarige dogter, North, en ’n seuntjie, Saint, wat volgende maand sy eerste verjaardag vier. Toe North gebore is, het Kim gely aan plasenta akkreta, ’n toestand waar die plasenta aan die baarmoeder vasgroei. Sy en Kanye het daarna gesukkel om swanger te raak met Saint. Die paartjie het openhartig gepraat oor hul wens om ’n groot gesin te hê, maar Kim het in Sondagaand se episode van Keeping Up With the Kardashians verneem ’n derde swangerskap kan noodlottige gevolge hê.

Lees ook: Kim Kardashian ‘wil nie weer swanger word nie’ Kim se huisdokter, dr. Paul Crane, het haar gewaarsku: “Jy weet nooit of jy dalk dieselfde soort probleem gaan hê wat hierdie keer ernstiger kan wees nie.” Hy het haar voorts gewaarsku: “Daar is altyd ’n effense risiko. Daar is gevalle waar ’n plasenta wat agterbly ’n saak van lewe of dood kan wees.” Kim se ma, Kris Jenner, wat haar vergesel het na die afspraak, het bygevoeg: “Jy kan jou doodbloei.” Kim het toe besluit om ’n tweede opinie in te win en het ’n afspraak met die vrugbaarheidspesialis dr. Wong gemaak. Hy het haar aangeraai om liewer ’n surrogaatma te oorweeg. Kim het aan kykers verduidelik: “As dié twee dokters wat ek vertrou my inlig dit sal nie veilig wees om weer swanger te raak nie, moet ek luister. Maar omdat ek niemand ken wat ’n surrogaatma was of een gebruik het nie, het ek dit nie eintlik as ’n opsie vir my beskou nie.”

Nadat surrogaatskap aangeroer is, het Kim besluit om met ’n ma te praat wat ’n surrogaat gebruik het terwyl sy self een van haar kinders verwag het.

In ’n ernstige gesprek met die vrou, ene Natalie, het Kim gesê haar grootste vrees is dat sy die kind wat deur ’n surrogaatma gedra is, op ’n ander manier gaan liefhê as North en Saint, want sy het hulle self gedra. “Ek is meer bekommerd, want ek het twee keer die lewe geskenk. Ek voel aangesien ek soveel pyn vir dié twee babas deurgemaak het en ek weet ons is saam daardeur . . . Daar is niemand anders wat jou liefde so voel (soos hierdie baba) nie, hy of sy is letterlik naby jou hart en binne-in jou,” het sy gesê. Lees ook: Kim Kardashian West wil aanneem “My band met my kinders is so sterk. Ek dink my grootste vrees is dat ek die kind op ’n ander manier gaan liefhê as ek ’n surrogaat gebruik. Dit is die groot vraag waaraan ek gedurig dink.”

Nadat Natalie haar verseker het sy het nooit sulke soort gevoelens gehad nie, het Kim aan die einde van die episode vir Kris gesê sy het dit aanvaar dat sy nie in staat sal wees om self nog ’n kind te dra nie, en sy ondersoek surrogaatskap nou ernstig.

"Die beste ding is dat ek nou ’n nuwe baba kan hê en niemand hoef dit te weet nie, terwyl ek minstens ’n jaar met my lewe kan aangaan voor ons dit aankondig,” het Kim afgesluit. “Maar ek weet nie of dit die regte ding is vir my nie. Ek weet werklik nie.”

© Cover Media