Kim Kardashian is glo vasbeslote om uit die kollig te bly tot sy weer 52 kg weeg.

Die ster van Keeping Up with The Kardashians is laas met die geboorte van haar dogter, North West, op 15 Junie in die openbaar gesien. Kim is sedertdien glo verbete besig om die sowat 30 kg wat sy tydens die swangerskap aangesit het, af te skud voor sy weer die kollig betree.

’n Bron na aan Kim (32) het aan die tydskrif Us Weekly gesê sy kruip nog weg omdat sy “geweldig selfbewus” is oor haar lyf.

“Kim het gesê wanneer sy die eerste keer weer uitgaan en afgeneem word, wil sy vuurwarm, vuurwarm, vuurwarm lyk.”

Sy het glo reeds danksy die hulp van haar persoonlike afrigter, Tracy Anderson, sowat 13 kg afgeskud. Maar die bron het gesê: “Sy skud nie nou meer so vinnig gewig af nie. Sy het ’n plato bereik; dis nou die moeilike deel.”

Kim oefen darem nie net heeltyd nie. Sy is ook glo besig om haar troue met die rapper Kanye West (36) te beplan. “Kanye was daar vir haar en het haar ondersteun, maar dit gaan meer daaroor dat Kim in haar eie kop is en obsessief is. Sy kla altyd oor haar grootte. Sy sê sy haat hoe sy lyk en sal eers uitgaan wanneer sy maerder is.”

Voorheen is berig Kim beplan om haar debuutverskyning by die Paryse Modeweek te maak. Dit begin op 24 September.

Die bron het bygevoeg: “Sy dink dit sal minstens nog ’n maand neem om te kom waar sy wil wees. Eers wanneer sy daar is, sal sy daaraan begin dink om haar lyf aan die wêreld te wys.”