Nou het sy in ’n radio-onderhoud aan Ryan Seacrest, die vervaardiger van Kim en haar uitgebreide gesin se werklikheidsprogram, Keeping up with the Kardashians, erken sy is nie van plan om in ma Kris Jenner se voetspoor te volg nie.

Kim (33) is een van ses kinders, maar het in die onderhoud vir Ryan gesê dat sy kans sien vir “hoogstens” drie kinders. Kim se susters Kourtney, Khloé en broer, Rob, is uit Kris se eerste huwelik gebore en Kendall en Kylie Jenner uit haar tweede.

“(My ma) is mal,” het Kim gesê.

North West, haar dogter by haar verloofde, die sanger Kanye West, is op 15 Junie verlede jaar gebore.

“Ek dink nie ek kan meer as op die meeste drie keer swanger raak nie. Drie (swangerskappe en kinders) sal my absolute maksimum wees,” berig die Daily Mail.

Kim het dit duidelik gestel dat sy nie twyfel oor haar besluit nie. “Ek is so lief vir my dogter en ek weet, ek wil meer kinders hê. Maar ek gaan nie my ma se voorbeeld volg nie.”

“Ek dink soms selfs daaraan of North nie dalk ’n enigste kind moet wees nie.”

“Terwyl ek die lewe geskenk het, het ek na my ma gekyk en gesê: Ek gaan vir jou ’n medalje koop, jy verdien ’n medalje daarvoor. Ses keer – jy is mal!”

Kim het ook gepraat oor haar troue met Kanye (36) en gesê dit gaan nie so ’n groot troue wees soos verwag word nie. “Ons besef algaande ons wil ’n kleiner en intiemer troue hê.”

Die paartjie wil glo later vanjaar in Parys trou.