Kim Kardashian en Kanye West het volgens berigte in Ierland aangekom vir hul wittebrood.

Die pasgetroudes, wat Saterdag in Florence, Italië, teen sononder voor 200 gaste trou aan mekaar beloof het, het na bewering Sondag met ’n privaat vliegtuig in Cork aangeland.

’n Bron het aan die koerant Irish Independent gesê die paartjie, wie se 11 maande oue dogter, North, saam met haar ouma Kris Jenner na Parys gereis het, het om drieuur by die Cork-lughawe geland en ’n vloot Mercedes-limousines het hulle ingewag.

Die Keeping up with the Kardashians-ster en haar rapper-man gaan vyf dae by ’n luukse privaat landgoed in Ierland deurbring.

Die donkerkop-skoonheid het Kanye in Junie 2012 in Dublin besoek om sy verjaardag te vier, en het in ’n blog-inskrywing gesê: “Ek het regtig my tyd in Ierland geniet.”

Haar familie het ook op hul werklikheidsprogram ’n moontlike besoek aan die land bespreek.

Die paartjie sou na verwagting Praag toe reis om ’n vriend se troue by te woon voor hulle op wittebrood gaan.

Intussen het iemand in die binnekring onthul dat die rapper sy bruid ’n pasgemaakte troupand van Lorraine Schwartz gegee het om by haar verloofring van 15 karaat te pas.

’n Bron het aan E! News vertel die juwelier het ook vir hom ’n eenvoudige goue pand gemaak.

Kim het die paadjie afgestap in ’n vollengte wit Givenchy-rok met kantmoue, maar het vir die onthaal ’n kort Balmain-rok met krale aangehad.