Kim Kardashian is in die wolke nadat haar borste na ’n grootte G gegroei het ná die geboorte van haar eersteling, North West, verlede naweek.

Die 32-jarige ster van Keeping Up with the Kardashians, wat glo verloof is aan die rapper Kanye West, pas goed aan by moederskap en is dol oor borsvoed nadat sy die aanvanklike uitdagings oorkom het, het ’n bron aan die webtuiste TMZ.com vertel.

Kim sien uit na haar dogter se voedingstye en is ’n baie betrokke ma, vertel die bron. Sy ruil elke vuil doek om. “Sy doen alles.”

Die brunet het voorheen kritiek ontlok nadat sy in Junie 2010 op Twitter gekla het oor ’n ma wat by ’n restaurant geborsvoed en haar baba se vuil doek net daar omgeruil het.

“Siesa, ek eet middagete en die vrou by die tafel langs my borsvoed haar baba sonder enige bedekking en sit toe haar baba op die tafel en ruil haar doek om,” het sy destyds geskryf.

Kanye (36) het intussen mense in die binnekring geskok met sy natuurlike ouerskapvaardighede en ook omdat hy gretig is om soveel moontlik na sy baba om te sien. “Niemand het hom al ooit so gesien nie.”