As jy ’n katteliefhebber is, moet liefs nie vir Kietsie streel nie. ’n Span navorsers van die Universiteit van Lincoln, die Universiteit van Sao Paulo en die Universiteit van Mediese Veeartseny in Oostenryk het bevind katte raak gespanne wanneer hulle aanmekaar gestreel word.

Dié span dierkundiges sê wanneer katte deur mense hanteer word, stel hulle hormone vry wat aan stres gekoppel word. In die toetse wat uitgevoer is, is boonop gevind geen van die katte geniet dit om gestreel te word nie.

Sommige katte was bereid om die gestreel te verdra, maar dis juis dié katte wat die meeste ongemak verduur het. “Katte wat hul eienaars se gestreel verdra, pleks dat hulle dit geniet of glad nie daarvan hou nie, het die meeste stres gehad,” het prof. Daniel Mills van die Universiteit van Lincoln aan Dailymail.co.uk gesê.

Die studie het die gedrag ondersoek van katte wat saam met mense in ’n huishouding woon.

Wil jy jou kat se gedrag verstaan? Kyk gerus hierdie video: