Wat sê die mense?

Die eerste stap wanneer jy op soek is ’n geskikte dagsorgsentrum is om rond te vra. Dit gee ’n mens ’n goeie aanduiding van die beste geriewe in die omgewing en help jou besluit watter die beste by jou benadering tot kinders grootmaak pas, sê Wilma Tindall, ’n kenner van vroeë kinderontwikkeling by die Sentrum vir Vroeë Kinderontwikkeling in Kaapstad.

Registrasie en opleiding

Enige sentrum waarin ses of meer kinders opgepas word, moet registreer by die departement van maatskaplike ontwikkeling, sê Wilma. “Die registrasiesertifikaat moet duidelik sigbaar vertoon word en moet al om die vyf jaar hernu word.”

Regtens moet mense wat in kindersorg werk, ’n klaringsertifikaat van die Nasionale Register vir Seksoortreders hê, sê Bev Wilson, direkteur van die Professional Childcare College in Johannesburg. “Alle personeel moet die sertifikaat kry wanneer hul dagsorgsentrum geregistreer word.”

Voorskoolse onderwyseresse moet ’n vlak vier voortgesette-onderrig-en-opleiding-sertifikaat in vroeë kinderontwikkeling hê. Klaskamer-assistente moet ’n kursus oor die oppas van kinders voltooi, sê Bev.

“Elke personeellid moet minstens vlak een noodhulp hê en daar moet minstens een met vlak twee wees,” sê Bev. Sy voeg by jy moet ook vra of hulle ’n noodhulpkissie het en waar dit gehou word. “Dis raadsaam om te kyk hoe toeganklik handskoene vir die personeel is, want hulle is deel van algemene beskerming wanneer ’n gebloei hanteer word.”

Aktiwiteite, toerusting en geriewe

Dagsorgsentrums moet ouderdomsgepaste hulpbronne vir alle ouderdomsgroepe verskaf wat ontwikkeling en leer sal stimuleer, sê Wilma. Daar moet byvoorbeeld opvoedkundige speelgoed, speeldeeg, legkaarte, boeke, verf en skryfbehoeftes wees, asook buitetoerusting soos sankbokse en klimrame.

Die dagprogram moet bestaan uit aktiwiteite wat opvoedkundig, stimulerend en veelsydig is.

Wanneer jy ’n dagsorgsentrum besoek, vra jou af: Lyk die kinders gelukkig en bedrywig? “Pasop vir sentrums waar kinders verveeld en ongelukkig lyk,” sê Wilma.

Is die speelgoed, boeke en ander speeltoerusting skoon en veilig? ’n Geroeste klimraam met verrottende houtplanke is byvoorbeeld ’n groot gevaarteken.

Is die speelgoed, boeke en ander hulpbronne maklik bereikbaar? “Party dagsorgsentrums bêre hul speelgoed en boeke weg, want hulle wil nie hê die kinders moet dit verrinneweer nie, maar wat help dit as jy nie die boeke kan bykom of met die speelgoed kan speel nie?” vra Bev.

Onthou om na die kombuis te kyk, voeg Bev by. “Dra hulle haarnette, is die kos bedek, is daar enige stofballe of vlieë?” En is die middagete wat hulle voorsit, voedsaam en gebalanseerd?

Die verhouding van kinders tot onderwyseres

Die personeel-tot-kind-verhouding verskil na gelang van die ouderdom:

  • Geboorte tot 18 maande: een volwassene vir elke ses kinders
  • 19 maande tot drie jaar: een volwassene vir elke 12 kinders
  • Drie tot vier jaar: een volwassene vir elke 16 kinders
  • Vier tot ses jaar: een volwassene vir elke 25 kinders

Die bogenoemde is minimum vereiste en gegrond op die aanname dat daar ook ’n onderwysassistent sal wees wat kan hand bysit. Dis haas onmoontlik om ’n dagsorgsentrum te bestuur met net een personeellid wat na ’n groep kinders kyk. As daar ’n noodgeval is of ’n doek moet omgeruil word, sal dit moeilik wees om behoorlik na die ander kinders te kyk. Dis belangrik dat daar voortdurend toesig is, selfs wanneer die kinders buite speel.

Kinders van verskillende ouderdomme kan saam gegroepeer word, maar net as daar behoorlike toesig is. Party sentrums verkies dat kinders van verskillende ouderdom saam in ’n groep is, want die ouer kinders help die jongeres leer, maar dié benadering vereis genoeg personeel om behoorlik toesig te hou. “Wanneer daar baie kinders is, moet die speelplek tussen kleuters en babas geskei word,” sê Bev.

Veiligheid

Kan enigiemand sommerso die dagsorgsentrum binnestap? Kies ’n skool waar die kinders veilig omhein is, vreemdelinge eers moet toestemming voor hulle kan binnekom en daar veiligheidskameras is.

Die dagsorgsentrum moet ook dié beleid hê vir kinders afhaal. As jy nie jou kind kan oplaai nie omdat jy in die verkeer vassit, het hulle ’n stelsel waarvolgens ’n vertroude vriend of familielid jou kind kan gaan haal? Hulle moet byvoorbeeld hul ID toon of ’n wagwoord noem.

Na watter gevaartekens moet ek oplet?

  • Dit ruik snaaks. “ ’n Dagsorgsentrum waar nie behoorlik met doeke weggedoen word nie, sal suur begin ruik. Wanneer ’n dagsorgsentrum vreemd ruik, moet dit vir jou sê hul higiëniese standaarde is nie na wense nie,” sê Bev. Kyk ook of die badkamers skoon is.
  • Daar is dalk trane en nukke wanneer jy jou kind die eerste keer na die dagsorgsentrum neem, maar as dit voortduur, moet jy bekommerd wees. “As jou kind elke dag huil wanneer jy haar aflaai, skort iets,” sê Bev. “Vra haar uit oor die dagsorgsentrum en luister na wat sy sê.”
  • “Televisies hoort nie in ’n dagsorgsentrum nie,” sê Bev. “Op ’n reëndag kan hulle dalk ’n bietjie TV kyk, maar kinders van enige ouderdom moenie heeldag voor die TV sit nie.”
  • “Pasop vir sentrums wat nie hul beleid kan verwoord of op skrif het nie,” sê Wilma. Sentrums moet ’n beleid hê rakende siek kinders, ongelukke en noodgevalle.
  • “Vermy sentrums wat geen ruimte vir spel het nie en oorvol is,” sê Wilma.

Onverwagte besoeke

Net omdat ’n dagsorgsentrum jou aanvanklike toets geslaag het, beteken nie jou werk is afgehandel nie. “Ouers het dikwels geen benul wat bedags in die sentrum gebeur nie,” sê Bev. Jy weet nie of jou kind die middagete kry wat op die spyskaart genoem word en of hulle enige van die aktiwiteit doen wat op die dagprogram verskyn nie. Dalk gee die dagsorgsentrum net vir hulle ’n sny roosterbrood en plak hulle heeldag voor die TV neer. “Besoek die dagsorgsentrum onverwags,” beveel Bev aan. “Maak vriende met die ander ouers en maak beurte om dit te doen.” Dit sal enige moontlike probleme aan die lig bring en die personeel op hul tone hou.

  • Enige sentrum wat net besoeke per afspraak toelaat, moet die rooi ligte laat flikker, voeg Wilma by. “Hulle steek dalk iets weg.”
  • Wanneer jy onverwags daar aankom, is die personeel vriendelik en verwelkomend, of tree hulle op asof hulle iets wegsteek, vra Wilma.

Nasorg vir ouer kinders

Baie van die bogenoemde geld ook vir nasorggeriewe vir skoolkinders. “Ideaal gesproke moet daar voorsiening wees vir ’n plek waar die kinders in gemak kan middagete eet, huiswerk doen, met huiswerk gehelp word, indien moontlik, en na buitemuurse aktiwiteite vervoer word,” sê Wilma. Alle sentrums bied nie vervoer nie, maar dié wat dit wel bied se bestuurders moet ’n professionele rybewys hê.

- Petro-Ann Vlok