Moenie dat bangmaakstories oor dié middels jou afskrik nie. Jou kleinding is nog skaars uit die doeke, en jy sien nog nie heeltemal kans vir ’n boetie of sussie vir jou pienkvoet nie. Hier is alles wat jy moet weet oor jou opsies vir voorbehoeding.

Inplanting:

Die klein Implanon- of Jadelleinplantings stel teen ’n stadige, egalige koers progesteroon in jou bloedstroom vry.

Doeltreffendheid:

In die eerste jaar raak net een uit 2 000 vroue swanger. Minder as een uit 1 000 raak oor drie jaar swanger, wat dit die doeltreffendste voorbehoedmiddel van almal maak, sê Judy.

Moontlike newe-effekte: Veranderinge in menstruasie, hoofpyn, naarheid. Party vroue hou heeltemal op menstrueer.

Gebruik dit as jy:

  • ’n Langdurige, doeltreffende voorbehoedmiddel soek
  • Nie voorbehoedmiddels kan gebruik wat estrogeen bevat nie; of
  • Vergeet om elke dag die Pil te drink.

Kry ’n alternatief as jy:

  • Borskanker het of enige soort kanker wat vir progesteroon sensitief is
  • Lewerkanker of -siekte het
  • Bloedklonte het
  • Abnormale vaginale bloeding het, of
  • Antiretrovirale middels (ARM’s) of teringmedisyne drink.

Koper-IUT

So werk dit:

’n Ginekoloog plaas ’n T-vormige intra-uteriene toestel (IUT) in jou baarmoeder. Die hormoonvrye toestel stel koper-ione vry wat sperm doodmaak.

Doeltreffendheid:

Een uit 200 vroue raak in die eerste jaar swanger.

Moontlike newe-effekte:

Veranderinge in menstruasie, krampe, buikpyn, ’n klein risiko vir ontsteking tydens inplasing, moontlike uitwerping tydens jou eerste menstruasie. Jou dokter kan jou leer hoe om die koorde raak te voel.

Gebruik dit as jy:

  • ’n langdurige voorbehoedmiddel soek
  • nie voorbehoedmiddels kan gebruik wat hormone bevat nie
  • ’n noodvoorbehoedmiddel nodig het – die koper- T werk tot vyf dae ná onbeskermde seks
  • vergeet om elke dag die Pil te drink; of
  • ARM’s of teringmedisyne drink.

Kry ’n alternatief as jy:

  • allergies is vir koper
  • serviks- of baarmoederkanker het
  • aan swaar, pynlike maandstondes ly
  • ’n toestand het wat die vorm van jou baarmoeder beïnvloed, soos fibroïede gewasse
  • geneig is tot ontsteking
  • abnormale vaginale bloeding het
  • ’n seksueel oordraagbare infeksie het.

Hormonale IUT

So werk dit:

Die hormonale IUT, of Mirena, is soortgelyk aan die koper-T. Dit word in jou baarmoeder geplaas, maar pleks van koper stel dit die hormoon progesteroon vry.

Doeltreffendheid:

Een uit 500 vroue raak in die eerste jaar swanger.

Newe-effekte:

Ligter, maar onvoorspelbare en langdurige bloeding in die eerste ses maande, krampe en buikpyn, ’n klein risiko vir ontsteking tydens inplasing. Maak seker dit word nie tydens jou eerste menstruasie uitgewerp nie.

Gebruik dit as jy:

  • aan swaar, pynlike bloeding ly – dit word ook dikwels gebruik om swaar maandstonde te behandel
  • aan endometriose ly
  • ’n langdurige voorbehoedmiddel soek
  • nie voorbehoedmiddels kan gebruik wat estrogeen bevat nie
  • overgeet om elke dag die Pil te drink.

Kry ’n alternatief as jy:

  • bors-, serviks- of baarmoederkanker het (of enige ander soort kanker wat vir progesteroon sensitief is)
  • lewerkanker of -siekte het
  • ’n baarmoeder het wat anders gevorm is weens ’n mediese toestand, soos fibroïede gewasse
  • geneig is tot ontsteking
  • ongediagnoseerde vaginale bloeding het
  • ’n SOI het.

Inspuiting:

So werk dit:

Dit bevat progesteroon. As jy Nur-Isterate gebruik, moet jy elke twee maande ’n inspuiting kry. Depo-Provera of Petogen word elke drie maande toegedien.

Doeltreffendheid:

Drie uit 100 vroue raak in die eerste jaar swanger.

Newe-effekte:

Veranderings in menstruasie, teer borste, naarheid, hoofpyn, gewigstoename (gemiddeld sowat 3 kg), aknee.

Gebruik dit as jy

  • nie voorbehoedmiddels kan gebruik wat estrogeen bevat nie
  • ARM’s of teringmedisyne gebruik. Ander medisynes beïnvloed nie die doeltreffendheid van die Petogen-inspuiting nie
  • onlangs die lewe geskenk het
  • langer werkende voorbehoedmiddels vereis.

Kry ’n alternatief as jy

  • ernstige, onbeheerde hoë bloeddruk het
  • ongereelde vaginale bloeding het waarvan die oorsaak onbekend is
  • in die volgende jaar wil swanger raak – dit kan jou tot ’n jaar neem
  • bloedklonte het of ’n beroerte gehad het.

Kombinasie voorbehoedmiddels:

So werk dit:

Die bekendste van die kombinasievoorbehoedmiddels, wat so genoem word omdat dit sowel estrogeen as progesteroon bevat, is diePil. Jy moet dit drie weke lank een keer per dag drink, waarna jy ’n week lank geen pil drink nie of ’n plasebo-pil drink, waartydens jy ’n onttrekkingsbloeding sal hê. As jy die aktiewe pil ná drie weke aanhou drink, sal jy nie jou maandstonde kry nie – wat nie skadelik is nie.

Die vaginale ring, ook ’n kombinasievoorbehoedmiddel, bly drie weke lank in jou vagina, van waar dit estrogeen en progesteroon vrystel. Jy kan dan kies om ’n week lank sonder die ring te loop of om ’n nuwe ring in te sit.

Die plakker vervang jy drie weke lank een keer per week. Jy kan dan ’n week lank sonder ’n plakker loop of daarmee volhou en sodoende verhoed dat jy jou maandstonde kry.

Doeltreffendheid:

Agt uit 100 vroue raak in die eerste jaar swanger.

Newe-effekte Deurbraakbloeding, buierigheid, teer borste, hoofpyn, naarheid, vloeistofterughouding, gewigstoename.

Gebruik dit as jy:

  • jou maandstondes wil beheer
  • aan pynlike maandstondes of PMS ly
  • aan aknee ly (nie alle pille help hiervoor nie)
  • binnekort wil swanger raak
  • van oormatige hare wil ontslae raak
  • aan endometriose of eierstoksiste ly.

Kry ’n alternatief as jy:

  • borskanker het (of enige ander soort kanker wat vir estrogeen of progesteroon sensitief is)
  • lewerkanker of -siekte het
  • ouer as 35 jaar oud is en rook
  • oorgewig is
  • ’n familiegeskiedenis van bloedklonte het of dit self al gehad het
  • diabetes het
  • hoë bloeddruk het
  • ’n hartsiekte of -abnormaliteit het
  • hoë cholesterol het
  • migraines met auras kry
  • onbeweeglik is, byvoorbeeld van lang bedrus
  • aan lupus ly
  • ARM’s of teringmedisyne drink.

Progesteroon vs. estrogeen

Hoe voorkom dié hormone swangerskap?

Estrogeen voorkom dat jou liggaam ovuleer, terwyl progesteroon die slym van die serviks laat verdik, wat dit moeiliker maak vir sperm om deur te gaan, en die voering van die baarmoeder verdun, wat dit “onherbergsaam” maak vir ’n bevrugte eier.

Die newe-effekte van estrogeen sluit in:

  • Vloeistofterughouding
  • veranderinge in seksuele begeerte
  • opgeblasenheid
  • beenkrampe
  • bloedklonte
  • vergrote of teer borste
  • naarheid of ’n omgekrapte maag
  • migraines
  • slegte spysvertering.
  • Vroue wat nie estrogeen kan gebruik nie, kan pille kies wat net progesteroon bevat, maar jy moet dit elke dag op dieselfde tyd drink. As jy dit net drie uur laat neem, is dit dalk nie doeltreffend nie.

Die newe-effekte van progesteroon is onder meer

  • Aknee
  • Migraines
  • naarheid of ’n omgekrapte maag
  • gemoedskommelinge en depressie
  • vergrote en teer borste
  • verhoogde of verlaagde libido
  • siste aan jou eierstokke, maar dit is gewoonlik skadeloos en verdwyn vanself
  • gewigstoename
  • S rugpyn

-          Petro-Anne Vlok