As jy ’n bietjie ekstra oemf tussen die lakens nodig het, kan ’n verandering aan jou musieksmaak dalk net die deurslag gee!

seks
Die aanlyn musiekdiens Deezer het onlangs die uitslae bekendgemaak van hul ondersoek oor die rol wat musiek in mense se sekslewe speel. Volgens hulle het meer as die helfte van die deelnemers aan die studie gesê om in die slaapkamer na musiek te luister het hul sekslewe verbeter.

’n Vyfde (sowat 19 persent) het boonop gesê dit vuur hul lus aan, terwyl 17 persent van die deelnemers gesê het dit maak dinge in die slaapkamer spontaner en minder ongemaklik.

Tot 18 persent van mans glo seks duur langer as die regte soort musiek op die agtergrond speel, maar net nege persent van vroue stem hiermee saam.

Vir die studie is onder andere 2 000 mense in Frankryk en 2 000 mense in Amerika uitgevra oor hul musiekgewoontes tydens seks. Marvin Gaye se Let’s Get It On en Rihanna se treffer Skin tel onder die gewildste liedjies vir goeie matrasgimnastiek.

Pop- sowel as rock-musiek was gewilde keuses, met Marvin Gaye, Michael Bublé en Lionel Richie wat ook die voortou geneem het.

Hierteenoor het Justin Bieber, Eminem en Kanye West al drie los laaste gekom; deelnemers het gesê dié kunstenaars sit hulle af van seks.

As jy graag jou slaapkamerklankbaan wil opkikker, kan jy gerus een van dié kunstenaars se musiek kies. Volgens die studie is hul stemme die sexyste.

  1. Marvin Gaye (13 persent)
  2. Michael Bublé (10 persent)
  3. Lionel Richie (9 persent)
  4. Luther Vandross (7 persent)
  5. Frank Sinatra (6 persent)
  6. John Legend (6 persent)
  7. Rihanna (5 persent)
  8. Nina Simone (5 persent)
  9. Stevie Wonder (5 persent)
  10. Gary Barlow (5 persent)

Tracy Cox, ’n verhouding-en-lyftaalkenner wat betrokke was by die studie, sê neurowetenskaplikes het al bevind ’n mens se liggaam reageer op diep basklanke.

“Daar is wetenskaplike bewyse dat musiek die atmosfeer in die slaapkamer kan aanhelp, maar die verkeerde liedjie kan ook die teenoorgestelde effek hê,” het sy gewaarsku.