Jou nes voel dalk vol ná jou kleingoed se geboorte, maar daar is altyd plek vir viervoetige gesinslede. Dis nogtans baie belangrik dat jy, voor jy Wagter aanneem, seker maak jou gesin is gereed vir ’n hond, sê Catherine Dallas van die Cape Animal Medical Centre.

Neem die volgende in ag:

Hoeveel tyd het jy?

Honde is veeleisend, ongeag hoe groot of klein hulle is nie. As jy vroeg soggens die huis verlaat, eers laat saans terugkeer en naweke min tyd het, moet jy ’n hond heroorweeg, want jy gaan iewers moet tyd inruim om aandag aan die hond te gee.

Hoe groot is jou erf?

Dit help nie jy koop ’n reuse hond en hy moet heeldag op ’n klein stoepie vasgekeer sit nie. Catherine meen eienaars moet kies tussen ’n groot en klein hond na gelang van hoeveel ruimte hulle die hond kan bied, en ook die hond se geaardheid in ag neem.

Hoeveel wil ek bestee?

As jy ’n hond koop, beloof jy nie net om tyd en aandag aan hom af te staan nie, maar ook geld. Afhangende van jou hond se grootte en soort, sal jy vir die volgende moet begroot:

  • Blikkies hondekos.
  • Hondepille.
  • Inentings.
  • ’n Jaarlikse veeartsbesoek.
  • Leibande en harnasse.
  • ’n Hondehok of slaapbed.
  • Enige ekstra medikasie/veeartsbesoeke.
  • ’n Hondehotel as jy jou brak vakansies tuis moet los.

Hoe kies ek ’n veilige hond?

Catherin sê honde se geskiktheid vir die gesin hang grootliks af van hoe hulle grootgemaak word.

“Dit kom nie net neer op hoe jy jou hond grootmaak nie, maar ook op hoe jy jou kinders grootmaak.”

Sy verduidelik gesinne kry dikwels kleiner hondjies, en hulle aanvaar sommer dié honde is veiliger, maar kleiner honde kan temperamenteel wees. Sy sê met ’n groot hond loop ’n mens weer gevaar dat hulle kinders per ongeluk kan beseer omdat hulle so groot is.

Kies die regte spesie

Tradisionele hondespesies maak deesdae ál meer plek vir unieke, interessante honde. Dink maar aan die gewildheid van Stella, die Franse bulhond van die TV-program Modern Family.

Terwyl dié honde ’n oulike toevoeging tot jou gesin kan wees, sê Catherine ouers moet waak teen eienaardige, unieke hondespesies omdat hul vreemde liggaamsbou tot baie gesondheidsprobleme kan lei.

“Dié soort honde is ’n hartseer wat die een of ander tyd gaan gebeur, want hulle het dikwels baie mediese probleme.”

Wat is dan die beste hond?

Sekere honde is jare reeds gewild, juis omdat hulle ideale gesinshonde is. Die bekende natuurkanaal Animal Planet deel hul top-10 honde vir ’n gesin:

  • Speurhond (beagle).
  • Bokser.
  • Kolliehond.
  • Engelse bulhond.
  • Goue jaghond (golden retriever).
  • Deense hond.
  • Labrador .
  • Newfoundlandse hond.
  • Poedel.
  • Mopshond (pug).

Catherine stem saam met dié lys en sê die gewildste keuse vir ’n gesin bly Labradors en Speurhonde.

- Mieke Vlok