Khloé Kardashian is nie van plan om te skei nie, al loop die storie dat haar man haar verneuk het.

Die ster van Keeping Up with The Kardashians is verslae oor onlangse gerugte dat haar man, die basketbalspeler Lamar Odom, ’n affair gehad het, maar die egpaar is glo nog gelukkig saam. Hulle is in 2009 getroud.

Khloé (29) se ma, Kris Jenner, het aan die skinderwebtuiste TMZ.com gesê: “Khloé en Lamar gaan nie skei nie. Daar is nie sprake van ’n egskeiding nie.”

Dis egter nie die eerste keer dat sulke stories kop uitsteek nie: Lamar het na bewering ’n jaar lank ’n verhouding met Jennifer Richardson gehad; dis in Maart vanjaar beëindig.

Kris het ook niks gesê oor beweringe dat die Los Angeles Clippers-speler onlangs ’n ses week lange affair met die prokureur Polina Polonsky gehad het nie.

Sy het volgehou alles was piekfyn tussen Lamar en Khloé toe hulle twee dae tevore by haar huis in Beverly Hills gekuier het.

Ander bronne na aan die paartjie, wat net ’n maand uitgegaan het voor hulle getroud is, sê ook hulle gaan nie skei nie. Sommige bronne sê Khloé het nog nie eens met ’n prokureur gepraat nie, terwyl ander sê sy is besig om egskeidingsdokumente te laat opstel.

Lamar (33) is sedert 2 Junie nog nie saam met sy vrou in die openbaar gesien nie en het nie Saterdag 10 Augustus ’n familiesaamtrek vir haar halfsuster Kylie Jenner se sestiende verjaardag in Malibu, Kalifornië, bygewoon nie.