Die werklikheidster (29), wat al vier jaar getroud is met die basketbalspeler Lamar Odom (33), is baie openlik oor haar stryd om swanger te raak.

’n Bron het aan die tydskrif Life & Style gesê Khloé het haar vrugbaarheidsbehandeling gestaak en konsentreer nou eerder daarop om reg te eet en te oefen sodat sy makliker swanger kan raak.

Die bron het bygevoeg: “Mense sê jy kan in ’n oogwink swanger raak as jy gesond en gelukkig is. Sy het nou besluit om daardie raad te volg.”

Khloé het die afgelope paar maande ’n strenger oefenplan begin volg en meer organies begin eet nadat haar suster Kourtney (34) haar dié raad gegee het.

Dié ma van twee het Khloé ook gewaarsku om nie meer haar kos in plastiekhouers te stoor nie, want sy glo dis giftig.

Die bron het vertel: “Khloé het regtig haar dieet ten goede aangepas. Sy het byna 14 kg verloor en het nog nooit so goed gelyk nie. Sy hoop sy kan natuurlik swanger raak noudat sy die ekstra rolletjies afgeskud en die vrugbaarheidsmedikasie gelos het.”

Lamar is glo baie verlig dat sy nou ’n natuurliker benadering volg. ’n Pel vertel: “Lamar haat die vrugbaarheidsbehandelings. Hy het nie daarvan gehou om voorgeskryf te word oor wanneer hy seks moet hê nie en het ook nie van Khloé se gedrag gehou toe sy die medikasie gebruik het nie; sy was heeltyd gespanne. Dit was soos ’n tweede werk vir hul albei.

“Hulle albei wil graag ’n baba hê, veral noudat die basketbalseisoen verby is en Lamar meer tyd het vir babas maak.”